Stroopsoet suikerbos groei aan suide-hange Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 22 December 2015 12:54
Untitled Document

Die protea-familie is vernoem na die Griekse seegod Proteus, wat in baie verskillende vorme kon verander. So verwys die boom se naam na die reuse verskeidenheid plante wat almal proteas genoem kan word. Die een wat aan die suidelike hange van die Bronberg groei is die gewone suikerbos, Protea caffra.

Hy het die naam ‘suikerbos’ gekry omdat sy blomme so baie nektar het wat voëls en insekte aantrek wat die blomme bestuif. ‘n Stroop, wat ook as versoetmiddel in kos gebruik is, is van die nektar gemaak. Dié stroop is ook tot in die vroeë 1800’s vir hoes of borsprobleme gedrink. Ander dele van die plant is gebruik om maagswere en diarree te behandel.


Die gewone suikerbos
Foto's: Wikipedia

Blomkop
Die blomkoppe, wat verkeerdelik gesien word as individuele blomme, kan enkel of in trosse gedra word. Hulle word tot 80 mm in omtrek en die skutblare wissel in kleur van rooierig tot roos- of roomkleurig.

Daar is baie klein blommetjies in die blomkop saamgegroepeer en as hulle bestuif word, vorm elke blommetjie ‘n klein neut wat met rooi-bruin hare bedek is.

Die gewone suikerbos groei as ‘n struik of klein boompie met ‘n geronde kroon van leeragtige grys-groen blare, bedek met silweragtige haartjies, wat tot 250 mm lank kan wees.

Die boom kan tot agt meter hoog word. Die dik, grys bas het ‘n kurkagtige tekstuur en beskerm die volwasse boom teen die veldbrande wat noodsaaklik is vir die instandhouding van die graslande waar die gewone suikerbos groei.


Die blomkoppe word tot 80 mm in omtrek

Groei
Dit is moeilik om suikerbosse te kweek. Die probleem lê nie daarin om die saad te laat ontkiem nie, maar om die saailing oor te plant.

Volwasse suikerbosse doen ook nie goed in tuine nie. Dit kan wees omdat die grond rondom hulle wortels versteur word, omdat hulle te veel water kry of sensitief is vir kunsmis.

Die suikerbos groei stadig en begin gewoonlik eers blom as hy vyf jaar oud is. Hy verkies goed gedreineerde, sanderige grond.


Ná ‘n veldbrand

 

© 2024 Die/The Bronberger