Met die Groot Trek het die Voortrekkers harde vet, en veral spek, as smeermiddel op die ossewaens se asse gebruik. Dit het ‘n reuse aantrekkingskrag vir klein vaalbruin voëltjies, wat sommer maklik hondmak geword het, gehad en die Voortrekkers het hulle spekvreters gedoop.
Die gewone spekvreter, Cercomela familiaris, is ‘n klein grys-bruin voëltjie van omtrent 15 cm lank met ‘n rooibruin agterste deel. Sy middelste deel en punt van sy stert is ‘n swarterige bruin. Sy kort, reguit snawel sowel as sy bene en voete is swart.
Verskil
Spekvreters wat in klipwêreld bly, verskil van die woestyn- en vlaktespekvreter deurdat hulle onderste dele ‘n donkerder grysbruin is. Hulle het ook ‘n ryker rooibruin kruis en buitestertvere.
Spekvreters flik hulle vlerke die heeltyd terwyl hulle rus, maar die een wat in klipwêreld woon laat bewe selfs ook sy stert – iets wat die ander spesies nie doen nie. Hulle verkies bergagtige en rotsagtige terrein en sit meestal op ‘n rots of hop op die grond rond.
Die gewone spekvreter
Foto: Wikipedia
Jy sal dié voëltjies gewoonlik in klein familie-groepies van drie tot vyf voëls sien en dié groepies word baie mak in tuine. Die spekvreter vreet insekte en vrugte en sal enige vet vreet wat ‘n mens in die tuin vir hulle uitsit. Sy skrikroep is ‘n skel ‘sjek-sjek’ of ‘pieeep-sjek-sjek’-geluid.
Broei
Hulle broei hoofsaaklik tussen Julie en April. Die nessie word aanmekaar gesit met hare, wol, vere of sagter plantmateriaal wat op ‘n groter plat stuk harde materiaal gebou word en op die grond of aan ‘n rots geanker word.
Die nessie word soms in ‘n gat in die grond, die wal van ‘n donga of teen ‘n rotswand gebou. Spekvreters sal ook nessies bo-op geboue maak en sal selfs ou versamelvoëlneste gebruik.
Hulle lê twee tot vier eiers wat ná 13 tot 15 dae uitbroei. Die kuikens word deur altwee ouers gevoer en verlaat die nessie na 15 tot 19 dae. |