Rina Swart van Faerie Glen skryf:
Hoekom bou mense gastehuise, ‘lodges’ en hotelkamers
sonder badkamerdeure? Veral in die moderne geboue is die
slaapkamer net ’n groot oop vertrek met ’n toilet, wasbak en
glasstort in die een hoek. Wat het van privaatheid geword?
Probeer hulle goedkoper bou? Die pryse word stewiger,
maar die verbruiker kry minder.
Ons reis nogal baie en slaap dikwels in bogenoemde plekke,
maar wanneer ons bespreek, is die standaard vraag: “Is daar’n badkamerdeur wat kan toemaak?” Natuurlik beteken geen
badkamerdeur geen bespreking.
Ek het met vriende, familie en ’n paar ander mense hieroor
gepraat, en raai wat, hulle voel dieselfde. Soms reis twee
vriende saam, of pa en kind, ma en seun, en deel dan ’n
slaapkamer. Hoe nou gemaak in die oopplan-slaapkamer
met die glasstort?
Dis vir my onverstaanbaar dat ’n ontwikkelaar/bouer/ argitek
nie aan sulke dinge dink nie. Dit kan werk in jou eie slaapkamer
in jou eie huis, maar nie in ’n semi-openbare plek nie.’n Ander doring in my vlees is die spieël wat so klein is dat jy
net jou kop kan sien. Asseblief, ’n vollengte spieël. ’n Mens
wil tog sien hoe jy lyk voordat jy uitgaan. En dan die elektriese
prop vir die haardroër wat nie naby ’n spieël is nie.
’n Mens wil tog in ’n spieël kyk terwyl jy jou hare droogblaas.
Soms, wanneer ek ’n mooi, smaakvolle gaste-plek sien, wil
ek huil oor die onpraktiese uitleg van die slaapkamers. Ek
was self lank in die bedryf en ons het geglo: slaap een aand
in jou gastekamers en jy sal gou die frustrasies verstaan van ’n bedlamp waarby jy nie kan lees nie, dawerende lugversorgers,
los matjies met opkrul hoeke en (’n erge een) geen bankie om jou tas op neer te sit
nie.
Miskien moet ek begin om ’n
soortgelyke diens aan gaste-plekke
te verskaf. Sal dit graag doen. Bel
my net by 082-441-0952. |