Dries Herbst van Bashewa skryf:
Skrywe ‘Stroping van geboue’ van Ben ‘van Mooikloof’ in die Augustus-uitgawe van Die Bronberger verwys:
Hoe jammer is dit dat hy nie genoeg selfvertroue het om sy van by sy naam te sit nie. Die mense in Mooikloof wat ek ken is almal persone van gesonde sosiale oordeel en sal nie lasterlike ondeurdagte aantuigings soos syne in die media maak nie. Ek betwyfel dus of hy ‘n Mooiklower is.
Waarvoor paradeer hy in die stofpaaie van Bashewa? Soek hy werk of moeilikheid? Wat is jou idee om ‘Mooikloof” agter jou naam te sit? Dink jy dit gee vir jou verhewe status? Eerder kan dit ‘n klad vir Mooikloof wees!
Die man met die grys bakkie is ek, en baie mense in die omgewing weet dit en ken my. Sodoende is die skrywe gou onder my aandag gebring. By implikasie verwys jy direk na my as ‘n dief wat skendend en lasterlik is. Moeilikheid het jy dus gevind.
Vir inligting: Die bank/eienaar het ‘n slopingskontrakteur aangestel om die terrein skoon te maak sodat die plot as ‘n skoon, leë eenheid bemark kan word sonder ‘n onooglike murasie. Belangstellendes kon prys onderhandel vir dit waarin hulle belangstel.
My grys bakkie was daarom ‘n paar keer op die perseel, maar nie om stene weg te ry soos jy lieg nie, maar om betaling aan ‘n agent te maak vir stene gekoop en ‘n aanbod-beraming te maak vir ander items, toesig, ens. Ek het drie kwitansies om verskillende aankope te bewys.
Die buite beton-omheining is nie te koop nie en die kontrakteur/bank beskou verwydering daarvan as diefstal. Ja! ‘n Sekuriteitsfirma is, volgens die slopingskontrakteur, aangestel om ‘n ogie te hou
Dit is die storie. Punt!
Ek eis dat jy verskoning in die openbare media teenoor my en Die Bronberger moet maak. Jy besmet die briewekolom van ‘n betroubare en gewaardeerde publikasie om ondeurdagte, lasterlike aantuigings teen identifiseerbare inwoners van die omgewing te maak. Snert en laster pas beslis nie by die omgewing en Die Bronberger se integriteit nie. |