Cecilia Brand van Garsfontein skryf:
Daar was ‘hongersnood’ in my huis. Ek het gereeld die plaaslike Poskantoor besoek op soek na ‘n Bronnie, maar tevergeefs! My navraag is telkens met slegs ‘n skouer-ophaal beantwoord.
Ek het nie geweet waar elders ek na die Bronnie kon gaan soek nie en het later moed opgegee en gewonder of die Bronnie nog ‘lewe’.
Intussen het ek almal só gemis (dis nou vir Poon, Vreethans, Toeka se dae, Final Word), ag, en sommer al die ander Bronbergers – al die kleurvolle advertensies ingesluit.
En toe, verlede week, besoek ek Lots of Pots in Lynnwoodweg en, sowaar, daar loop ek my vas in Die Bronnie. Ek kon my oë nie glo nie! Boonop is dit toe die verjaardag-uitgawe – ‘n pragstuk!
Ek wil nie graag daaraan dink nie, maar daar is maande waarvan ek nie kan rekenskap gee nie, van alles wat ek misgeloop het vanweë die afwesigheid van Bronnies in my lewe.
Baie geluk, baie dankie en baie groete.
Die Bronbergers wat vroeër vanjaar deur Poskantoorwerkers by Garsfontein-Poskantoor op die vloer en toonbanke gesit is, was vir die Mooikloof-posbusse bedoel. Omdat die poswerkers dit net sporadies gedoen het en omdat die Mooiklowers ook begin kla het, het ons begin om die Bronnies self op die toonbank te sit. En toe bel ‘n belangrike Poskantoormens op ‘n dag en verbied ons om dit weer te doen. Met die korrekte aflewering in Mooikloof, behoort daar nie meer Bronnies in die Poskantoor oor te wees nie. – Red |