Skaam ?wolf? voor lens betrap Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 May 2013 15:18
Untitled Document

Dit is nie aldag dat jy die skaam aardwolf helder oordag vlak voor jou kameralens kry nie. Maar dit is presies wat met kranige natuurfotograaf, Gerhard Scheepers, gebeur het.

Gerhard sê hy het verlede jaar die aardwolf vlugtig by die Rietvlei-natuurreservaat gewaar, maar soos die ongeluk dit wou hê, het hy nie sy kamera by hom gehad nie.

Onlangs het hy weer die gedierte gesien en toe bederf die aardwolf hom deur tot vlak by sy motor te loop, wat hom die geleentheid gegee het om behoorlike foto’s, soos dié een, te neem.


Dié Rietvleise aardwolf het helder oordag tot vlak voor Gerhard Scheepers se kameralens geloop

Die aardwolf hou meestal bedags by sy ondergrondse skuiling en kom saans te voorskyn om te vreet. ‘n Aardwolf vreet bykans uitsluitlik insekte en sy gunsteling gereg is termiete. Hy kan tot 200 000 van dié miere in ‘n nag verslind en vang sy prooi met sy lang, taai tong.

Anders as wat sommige boere selfs tot vandag toe nog glo, is die aardwolf nie ‘n vleisvreter nie en kan hy nie skape of lammers vang nie, al wil hy. Die stomme diere is vroeër jare op groot skaal geskiet, omdat boere geglo het hulle is skaapvangers.

Dié dwaling het gesorg daarvoor dat die diere die naam van ‘maanhaarjakkals’ gekry het. Die aardwolf is eintlik verwant aan die hiëna, al vreet hy nie vleis nie.

Die gebruik van insekdoders sorg ook vir grootskaalse vrektes onder aardwolwe. Aardwolwe kom net in Oos- en Suidelike Afrika voor.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger