Die Bronberg-gebied het ‘n paar onverwagte vroeë-seisoen haelstorms in September ervaar en groot skade aan veral vrugteboorde is aangerig.
Die grootste hoeveelheid haelstorms in die gebied kom in hoog-somer voor. In ‘n studie oor natuurrampe is ‘n paar katastrofiese haelstorms in die Pretoria-omgewing opgeteken.
Die storm van 1923 wat menige vensters in die Sunnyside/Arcadia-gebied gebreek het, val blykbaar nie in die ramp-kategorie nie. Op 1 Februarie 1936 het haelwolke wat oor Pretoria beweeg het baie skade verder noord aangerig. Haelkorrels so groot soos kokosneute is gevind en tien mense en verskeie beeste is op Settlers deur die hael doodgeslaan.
‘n Reënboog ná die middel-September haelstorm te siene by die N4 tolhek vir die Rayton/Cullinan afrit
Foto: Gertie Stofberg |
Op 17 November 1949 het haelstene met ‘n omtrek van 23 cm in Pretoria geval. In Pretoria-Wes was daar nie ‘n enkele gebou sonder gebreekte vensters en dakke nie. By Yskor is 12 000 groot vensters gebreek en honderde voertuie erg beskadig.
Die laaste haelstorm in die ramp-kategorie was op 1 November 1985. Skade in Pretoria is destyds beraam op R400-miljoen.
Hael ontstaan in die boonste deel van ‘n wolk wat ten minste 3 km bokant die grond moet wees waar die temperatuur onder 0 grade Celsius is. Die haelkorrels word deur stygende en dalende lugstrome in die wolk op- en afgeslinger tot die korrels so groot is dat hulle naderhand te swaar is en die opwaartse lugstroom hulle nie meer kan dra nie.
Hael verskil van ysreën (“sleet”) wat net soos haelkorrels lyk, maar eintlik bevrore reëndruppels is. Hael word hoog bo in ‘n wolk aan die begin van ‘n donderstorm in hoog-somer gevorm, terwyl ysreën in koue weer naby die grond gevorm word wanneer die grondtemperatuur onder vriespunt is. |