Wie sou nou kon raai dat
die eerste Engelse Volksraadlid
van die Zuid-Afrikaansche
Republiek lank voor die
Struben-broers goud aan die Witwatersrand
ontdek het?
John Robert Lys se goudbelaaide
‘poedingklip’ het jare lank as deel
van sy klipversameling in sy studeerkamer
neffens Kerkplein gelê
voor die Strubens begin het om die
ryk Witwatersrandse goudaar te ontgin.
Die eerste goudontginning was naby
die plek waar Lys sy pragtige poedingklip
ongeveer twee dekades
vroeër opgetel het.
John Robert Lys, ’n winkelier in ou
Pretoria, was aangetroude familie
van Harry en Fred Struben, wat volgens
die geskiedenisboeke die
eerste goud aan die rand ontdek het
16 jaar ná John sy goue klip gekry
het. Albert Brodrick, ’n toekase
winkelier bekend as Albertus Broodryk,
en James Rous, uitgewer van
De Volksstem was, soos Harry Struben,
ook met susters van Lys se
vrou, Olivia Selina Fry, getroud.
Kerkplein met die Lys-huis in die middel. Kyk na die klok van die eerste
kerk wat op Kerkplein gebou is en in 1880 afgebrand het
Foto: Rosa Swanepoel se versameling.
Eerste Engelse
Lys was ’n amateur geoloog, hy kon
Latyn lees, het graag solo areas
gesing en was ’n rare Engelsman in
die Zuid-Afrikaansche Volksraad.
Daar is selfs bespiegel dat hy in die
1850’s die eerste Engelsman in
Pretoria was, maar dokumente in
die Staatsargief bewys dat die twee
Devereau-broers en William Skinner
voor hom hier was.
John het in 1855 in Pretoria aankom
toe hy ’n jagtog na die binneland
onderneem het. Hy is op
17 Januarie 1829 as die tweede
seun van John Stephenson Lys, ’n
dominee van die Engelse Kerk van
St Anne op Alderney, die mees
noordelike eiland in die Engelse
kanaal, gebore. John het in 1850 in
die Kaap aangekom en het daarna
naby Harrismith gaan boer.
Hy het, soos so vele Pretoriase
pioniers, as handelaar hier
aangekom, maar knap 11 jaar na sy
aankoms, in 1866, is John tot die
Volksraad verkies en is sy tweede
mynboumaatskappy in die lewe
geroep.
Heel links op die foto is JR Lys se huis en besigheid. Regs is die eerste
Goewermentsgebou en reg agter dit Pretoria se eerste tronk
Staaltjies
Baie staaltjies is oor dié kleurvolle
ou Pretorianer vertel. Hy was een
van President Burgers se groot aanhangers
en het selfs in 1876 ’n sangsolo
gelewer by die onthaal, wat hy
help reël het, om President Burgers
terug te verwelkom na een van sy
vele Europese reise.
President Burgers is Europa toe om
’n lening van goud vir die republiek
te kry. Een van die voorwaardes vir
dié lening was dat ’n soortgelyke
hoeveelheid van die Zuid-Afrikaansche
regering se banknote vernietig
moet word. John is in beheer gesit
van dié projek en hy het besluit om
die note in die oond waarin sy vrou
brood gebak het, te verbrand. So
het dit gebeur dat sy dié spesifieke
dag ’n brood ter waarde van
£50 000 gebak het.
Rondom dié tyd moes John ’n mediese
dokter, wat ’n hele ry indrukwekkende sertifikate in Latyn teen
sy spreekkamermure gehad het,
gaan besoek. Om die wagtyd te
verkort, het John die sertifikate staan
en lees en agtergekom dat dít wat
daar staan, niks met mediese opleiding
te doen het nie.
In plaas van kwalifikasies, was die
geskrifte reseppies en selfs gebede
in die Latynse taal. Dit was seker
maar die Latyn wat die amptenare
wat moes besluit oor die man se
kwalifikasies, van sy egtheid oortuig
het. John het egter ingegryp en
Pretoria was minus ’n kwaksalwer.
John Robert Lys, sy vrou Olivia Selina, ’n nooi Fry, hul seun Godfray en
twee dogters
Grense
Selfs John se Volksraadkommissies
was legendaries. Toe sy vriend,
Reilly van Maquassi, die eerste diamant
in die Vaalrivier in 1869 ontdek
het, is John deur die Volksraad
gevra om dadelik soontoe te gaan
om die grense tussen die Kaap,
Vrystaat en Transvaal daar te stel.
Hy het op die grenskommissies by
die grense met Portugees Oos-
Afrika, die Vrystaat, en die Rolong,
op die republiek se westerse grens,
gedien. Hy is ook na Swaziland toe
Amaswazi, die hoofman, dood is
om te help om die grense tussen die
republiek en Swaziland af te baken
en om die nuwe hoofman te help
kies.
Aktiwiteite
In haar Ou Pretoria nuusbrief sê
Rosa Swanepoel dat dit moeilik is
om te glo dat een persoon by so
baie aktiwiteite betrokke kon wees.
Vat ’n jaar soos 1874 byvoorbeeld:
John Lys sluit aan by die Vrywillige
Artillerie Korps, dien op ’n komitee
om die regulasies van die artillerie
te bepaal en word ook gekies as
kommanderende offisier van die
korps.
’n Vergadering vir die stigting van ’n
munisipaliteit word by sy huis gehou;
hy dien op ’n komitee vir die
stigting van ’n skool vir jong dames;
is betrokke by die bestuur van die
Vrymesselaars, die Pretoria Klub en
die krieketklub; is ’n beampte by
die perderesies; en verteenwoordig
Pretoria in die Volksraad.
John het ook kragte saamgesnoer
met biskop Bousfield om die eerste
Anglikaanse gemeente in die dorp
te stig.
Die straat in die middel van die foto is Kerkstraat-Oos. Heel links is
Albert Brodrick se “The hole in the wall”. Op die oorkantste hoek is
erf 352 en die winkel van Field en
Hoffmann, eers Field en Nephew, wat oorspronklik aan JR Lys
behoort het
Winkel
Maar kom ons gaan terug na die
beginjare, toe John as winkelier in
Pretoria aangekom het. Volgens
Rosa Swanepoel het John in 1857 ’n
handelshuis in Pretoria geopen. In
1858 koop hy erf nr 348 op die
suid-oostelike hoek van Kerkstraat
en Kerkplein. Dié winkel was
oorkant Pretoria se eerste tronk.
In 1864 koop hy erf nr 352 op die
suid-oostelike hoek van Kerkstraat
en Kerkplein. In 1874 bou hy ’n
nuwe winkel op die erf maar voor
die winkeliers ingetrek het, het
Pretoria se vrouens van die kans
gebruik gemaak om ’n bazaar in die
pakhuis te hou om geld vir vermaaklikheid
in te samel. Later is
daar ook ’n groot bal daar gehou
om die winkel in te wy. Selfs ’n bal
vir kinders is op ’n Saterdagmiddag
daar aangebied.
John het die winkel aan Field en
Nephew verhuur. In 1876 het hy
die westelike deel van die erf
verkoop en in 1878 die res van die
erf. Dieselfde jaar ontbind die firma
Field en Nephew en word Field en
Hoffmann.
Trou
John is in 1859 met Olivia Selina
Fry getroud. Sy was die stiefdogter
van eerwaarde William G Cole van
‘Trinity College’ in Dublin. Vier van
haar halfsusters het hulle ook in
Pretoria gevestig en is hier getroud.
Hulle was Isabella Louisa Cole,
getroud met Albert Brodrick, Alexa
Cole, getroud met James Rous, uitgewer
van De Volksstem, Mary Cole
getroud met Harry Struben, en ’n
vierde suster is getroud met ’n
Fraude.
Die Lys-gesin se huis het bekend
gestaan as “The Eyrie” en John het
elke jaar die Engelse koningin se
verjaarsdag hier gevier deur ’n klein
skeepskanon vol loskruit te laai en
los te trek met ’n saluut van 12
kanonskote.
Die Duitse geoloog
Carl Mauch
Prospekteer
John was ’n geesdriftige amateur
geoloog wat dwarsdeur die land
gaan prospekteer het. Met die loop
van jare het sy studeerkamer in ’n
museum vol van edelgesteentes en
metale ontaard.
Hy het lood in Mariko ontdek en ná
die ontdekking het President Pretorius
die eerste mynlisensie in die
Zuid-Afrikaansche Republiek aan
John toegeken. Dit het hom die reg
gegee om dwarsdeur die republiek
te gaan prospekteer soos hy sou
wou.
’n Mynmaatskappy is in April 1860
met ’n konsessie van die Volksraad
gevorm, en is die Transvaal Algemene
Mynmaatskappy genoem. Die
doel was om lood te myn vir die
maak van koeëls, maar die maatskappy
was ’n mislukking en is in
1865 ontbind.
In 1866 probeer John weer. Dié
keer noem hy die maatskappy die
Zuid-Afrikaansche Republiek Mynmaatskappy.
Die maatskappy se
konsessie het hul toegelaat om lood,
koper, yster en tin te myn, maar nie
diamante of goud nie. Daar is ook
ooreengekom dat geen ander maatskappy
dié metale vir die volgende
vyf jaar mag myn nie. Weereens het
die maatskappy misluk weens ’n
gebrek aan kapitaal.
Die Lys-huis van naderby
Vassit-klip
Tog was John steeds oortuig daarvan
dat daar volop goud aan die Witwatersrand
was. Die bewys daarvan,
die poedingklip, het dan in sy
studeerkamer gelê. Angela P. Makin,
John se agterkleinkind, het ‘The
Story of the Golden Vlei’ geskryf oor
dié poeding-klip.
John was met ’n ossewa met die Ou
Pionierspad wat van Pietermaritzburg
na Pretoria geloop het, op pad
huis toe. In die omgewing van
Heidelberg was daar ’n turfagtige
vlei op die plaas Driefontein, vandag
Witfield, waar John en sy waens
voor sononder moes deur.
Die drywer wat langs John voor op
die wa gesit het was ’n Boesman
genaamd Kleinboy, die eerste mens
wat aan die poedingklip geraak het.
Hoe dit gebeur het, is dat die
voorste ossewa in die vlei vasgesit het en John vir Kleinboy gevra het
om groot klippe aan te dra om
rondom die wawiele neer te sit. Die
laaste strale van die sakkende son
het direk op een klip geskyn en
John kon die blink, goue kleur
duidelik sien.
John se plan was om terug te gaan
na dié plek toe en om ander mense
intussen daar weg te hou. Hy het
die storie versprei dat waens in
daardie vlei se turf vassit en dat die
roete verander moet word. Selfs
amptenare wat kaarte vir die regering
opgestel het, het vir die storie
geval. Hulle het die vlei Lysvlei
begin noem en hul roetes rondom
dié vlei beplan.
Die grafte van John Robert Lys se vrou, Olivia Selina, en sy seun,
Robert Oliver Godfray, in Kerkstraat, Pretoria-Wes
Geoloog
In 1867 het John ’n Duitse geoloog,
Carl Mauch, na Lysvlei geneem. Hy
het bevestig dat daar wel goud is,
maar dié inligting het geensins ’n
goudkoors in die Witwatersrandomgewing
tot gevolg gehad nie. Dit
het eers 19 jaar later gebeur. Lys en
Mauch het self nie genoeg kapitaal
gehad om die goud te ontgin nie.
Tien jaar later het John sy Lysvlei vir
’n Australiese inspekteur van goudvelde,
A Armfield, gaan wys. Weereens
het ’n kenner bevestig dat daar
goud is, maar Armfield is deur Lord
Shepstone Transvaal toe gebring om
die goudvelde by Eersteling, Selati,
Ohrigstad, Pelgrimsrus en Barberton
te gaan inspekteer ek kon nie by
Lysvlei tydmors nie. Hy is vort op sy
amptelike missie en voor hy die verslag
oor die ontdekking van goud
aan die Witwatersrand kon skryf, is
hy aan swartwaterkoors dood.
John se seun, Godfray, het egter
nooit van sy pa se onwrikbare
geloof aan ’n ryk goudaar in die
Witwatersrand-omgewing vergeet
nie. Hy het later saam met sy ooms,
Harry en Fred Struben, die eerste
klont goud aan die Witwatersrand
fyngemaal.
John is op 14 Augustus 1880
oorlede. In die huldeblyk in die
koerante word genoem dat hy in
1878 aangestel was as landdros en
dat hy ’n direkteur van Field en
Nephew was. Daar word geen
melding van die poedingklip of sy
prospektering gemaak nie.
John se agterkleindogter, Angela,
skryf dat die Lys-familie met nabetragting
bly was dat John voor die
twee Vryheidsoorloë oorlede is. Sy
sê dat hy altyd vir die vooruitgang
van die Zuid-Afrikaansche Republiek
gewerk het en dat dit sy hart
sou breek om Boer en Brit in ’n
oorlog teen mekaar te sien.
Ons kon nie vasstel waar John
begrawe is nie. Sy vrou Olivia, en
seun Godfray is langs mekaar in die
Kerkstraat, Pretoria-Wes begraafplaas
begrawe. |