Mevrou Pitte laat ou Voortrekkerresepte herlewe Print E-mail
News - Mymerkos
Thursday, 15 June 2023 09:17
Untitled Document

Die einde van ’n era het aangebreek met Vreethans se afsterwe. Tog gaan die Bronnie voort met ’n rubriek waar kos die fokus is – dié keer nie beskrywings van besoeke aan kuierplekke nie, maar iets wat ons met heimwee aan resepte van vergange dae laat dink. Ons noem dit mymerkos.

’n Sekere mevrou Pitte het dit in die 1940’s op haarself geneem om navorsing te doen oor die resepte wat die Voortrekkers gebruik het. Haar boekie, genaamd ‘Voortrekker-Resepte – Tradisionele Suid-Afrikaanse Geregte’ is in 1949 deur die Shell-Maatskappy van Suid-Afrika Beperk uitgegee.

Mevrou Pitte – nee, geen voornaam is bekend nie – het die resepte versamel waarvan sommiges uit handgeskrewe boeke, wat so ver terug as uit die 1830’s dateer, gekom het. Dié ou resepte was in die Hoog-Hollands van destyds geskryf en is deur haar in Afrikaans vertaal.


‘Voortrekker-Resepte – Tradisionele Suid-Afrikaanse Geregte’


’n Tweede weergawe van ‘Voortrekker-Resepte’ het so gelyk

Die boekie het sketse in blou ink bevat om die Voortrekkerlewe uit te beeld en die advertensies was van ’n ‘moderne’ vrou wat Pennant-paraffien in die kombuis gebruik om die lewe soveel makliker en meer gerieflik te maak.

’n Uittreksel uit mevrou Pitte se voorwoord lui soos volg: “Onder die opskrif: ‘Voortrekker’ resepte het ek hierdie versameling tradisionele Suid-Afrikaanse reseppies bymekaar gemaak.” 

“Tyd verander, maar die ou tradisie van Suid-Afrikaanse gasvryheid leef steeds voort. Metodes van voedselbereiding het ook verander, en vandag maak die paraffienstoof, tesame met die paraffienverwarmer, lamp en koelkas dit eenvoudiger vir die huisvrou om huis te hou en te onthaal.”

“Ek hoop dat u hierdie reseppies nuttig sal vind.”


Die tweede uitgawe van ‘Mev Pitte se Kookboek’

’n Tweede weergawe van ‘Voortrekker-Resepte’ het later uitgekom en mevrou Pitte se ander boeke was: ‘Mevrou Pitte se Kook Boek’; ‘Mev Pitte se Tweede Kookboek’ en ’n tweede uitgawe van ‘Mev Pitte se Kookboek’.

Ons bevind ons in die bibberweer-seisoen en het daarom mevrou Pitte se ‘Swartsuur Soep’ uit haar boek, ‘Voortrekker-Resepte, gekies om met lesers te deel.


‘Mevrou Pitte se Kook Boek’


‘Mev Pitte se Tweede Kookboek’

Swartsuur Soep Nr 1
Bestanddele: 3 pond skaapribbetjie / 6 Naeltjies / 1 Wit ui / 12 Peperkorrels (fyn gekneus) / 2 Onse tamaryn / 1 Eetlepel bruinsuiker / Eende of hoenderbloed / Sout na smaak.

Metode: Kap ribbetjie in netjiese stukkies en stowe stadig in omtrent drie tot vier koppies koue water. Na ’n uur of wat word een koppie van die sous uitgeskep en meelblom word in die kokende sous ingeroer totdat dit ’n stywe deeg vorm. Laat afkoel.


Dié Voortrekker-tapisserie in die Voortrekkermonument heet ‘Uitspanning by Thaba Nchu’

Klits nou twee eiers op en roer by die deeg in. Vorm balletjies met twee teelepels so groot soos albasters. Tamaryn word in twee groot koppies kokende water geweek. Sny die ui fyn en smoor in ’n bietjie botter. Sodra die koppie sous uitgeskep is, word die water van die tamaryn afgegooi en by die soep op die stoof gevoeg, ook die eende of hoenderbloed.

Voeg al die bestanddele ook by, indien nodig voeg nog water by. Laat die soep goed deurkook. Sout word na eie smaak bygevoeg. Kluitjies word net ’n half-uur voor die soep opgedis word, ingesit en moet baie vinnig opkook.

Let Wel: Asyn kan na eie smaak in die plek van tamaryn gebruik word.


’n Trekkervrou by haar wa
Bron: Jackie Grobler-versameling

Swartsuur Soep Nr 2
In plaas van skaapribbetjies word nou hoendervlerkies, -boudjies, -beentjies en bloed gebruik. Vir die res is die resep dieselfde as in Swartsuur Soep Nr 1, behalwe dat korente by die kluitjies gevoeg word.

In ‘Mymerkos’ hoor ons graag van lesers oor resepte wat heimwee wakker maak. Lesers is welkom om vir ons ’n ou familieresep te stuur saam met ’n foto van die ma of ouma wat die resep ’n familiedis gemaak het of ’n foto van hoe so ’n dis lyk.

 

© 2024 Die/The Bronberger