Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 21 October 2010 06:45
Untitled Document

As jy ’n klomp piepklein voëltjies styf teen mekaar op ’n takkie sien sit, is die kanse goed dat jy na ’n familiegroepie van die gewone fret kyk. Dié voëltjies is groeplewend en word gereeld in swerms of klein familiegroepies gesien.

Die gewone fret, Spermestes cucullatus, se Engelse naam is ‘Bronze Mannikin’. Hy behoort aan die Estrilididae familiegroep wat voëls soos sysies, robbins, vinke en die baardmannetjie insluit. Teen 9 cm lank is die gewone fret ’n baie klein, kompakte wit en bruin voëltjie. Sy snawel is swart aan die bokant en blou-grys aan die onderkant.


Die gewone fret
Foto: Alan Manson

Sy kop, nek en boonste deel van die bors is swarterig met ’n metaalagtige groen skynsel wat net in goeie lig sigbaar is. Sy rug en vlerke is ’n ligter gryserige bruin en die onderste dele is witterig met swarterige strepe op die flanke en onder die stert. Die geslagte lyk eners.

Die gewone fret word onderskei van die rooirugfret deurdat hy minder swart op die kop het, en ’n bruin en nie kastaiing-kleurige rug het nie. Hy word onderskei van die dikbekfret deurdat hy baie kleiner is, en ’n kleiner, tweekleurige snawel het. Onvolwassenes is eenvormig dofgeel, anders as die onvolwasse rooirugfret wat ’n rooierige bruin rug en ligkleurige onderste dele het.

Dié baie algemene standvoël kom voor in ’n wye verskeidenheid grasryke gebiede in boswêreld, woudrande, klam streke en voorstede. Die gewone fret vreet meestal saad, maar vul sy dieet aan met insekte en groen plantmateriaal. Sy roep is ’n sagte, zoemerige ‘tjizza, tjizza’, maar hy het ook ’n skel ‘tjak-tjak-tjak- tjak’ noodroep.


Almal op een takkie
Foto: Biswarup

Die voëltjies broei van Augustus tot Mei, met die piek broeiseisoen van November tot April. Die mannetjie versamel die nesmateriaal wat die wyfie gebruik om ’n nessie mee te bou. Die nessie is ’n bal van droë gras met ’n buisvormige sy-ingang wat in ’n struik, boom of mensgemaakte struktuur soos ’n heining of op geboue se balke opgerig word.

Die wyfie lê twee tot agt wit eiers wat deur beide ouers vir ongeveer 12 tot 16 dae lank uitgebroei word. Die kuikens word ook deur beide ouers gevoer. Hulle verlaat die nes na omtrent 15 tot 21 dae en is ongeveer vier weke daarna heeltemal onafhanklik.

 

© 2024 Die/The Bronberger