Sy lyk op die oog af of botter
nie in haar mond kan
smelt nie. Dié voëltjie, wat
saam met die wewers, vinke, kweleas
en flappe onder die Ploceidae
gegroepeer word, kan egter tot 30
eiers per broeiseisoen in ander voëls
se nessies lê.
Ons praat van die koekoekvink.
Hulle is die enigste broei-parasiet
wat hulself in ’n familie bevind wat
deur koekoeke geparasiteer word
en dan self parasiteer op tinktinkies
en langstertjies.
Die koekoekvink se broeiseisoen is
van September tot April met die
piek van Desember tot Februarie.
Die wyfie verwyder eers een of al
die gasheer se eiers voor sy ’n enkele
eier in die nes lê. Sy parasiteer
gewoonlik vier nessies binne ’n paar
dae en die eier neem 14 dae om uit
te broei.
![](/images/stories/sep2010/onsd1.jpg) Die koekoekvink
Foto: Wikipedia
Voer
Die kuiken word insekte gevoer en
verlaat die nessie na omtrent 18
dae. Hy kan eintlik self begin kos
soek binne die eerste 10 dae nadat
hy uitgebroei het, maar bly onder
die gasheer se sorg vir verskeie
weke voor hy hulle verlaat en by ’n
swerm van sy eie spesie aansluit.
Alhoewel die kuiken op insekte
grootgeword het, vreet die volwasse
koekoekvink bykans nooit insekte
nie. Hul leef hoofsaaklik van grassade
wat direk van die grashalm
gevreet word of van die grond af
opgetel word en toon ook ’n
voorkeur vir sonneblomsade.
Swerm
Koekoekvinke kan ’n nie-algemene
standvoël wees, maar kan ook
nomadies of ’n plaaslike trekker
wees. Hul beweeg in ’n swerm van
agt tot 50 voëls, maar soms kan tot
meer as 1 000 bymekaarkom op
plekke waar daar onlangs reën geval
het.
Die koekoekvink is 13 cm lank en lyk
amper soos ’n klein geelwewerwyfie.
Die gelerige kleur is net
helderder, veral aan die onderkant,
en hy het ’n diagnostiese kort,
keëlvormige, swart snawel.
Die wyfie lyk soos die wyfies van die
goudgeel-, rooi- en vuurkopvink – ’n
streperige bruin kleur – maar sy kan
uitgeken word aan haar swaarder
snawel.
Dié voëltjie woon in oop grasveld,
naby klam gebiede. Sy roep is ’n
borrelgeluid wat gedurende vertoon
gemaak word.
Naam
Die koekoekvink, Anomalospiza
imberbis, is vir die eerste keer in
1868 beskryf deur Jean Cabanis, ’n
Duitse voëlkenner, op grond van ’n
voëltjie wat van Oos-Afrika verkry is,
waarskynlik van die kus oorkant
Zanzibar.
Hy is aanvanklik in die Crithagragenus
geplaas, maar is later na sy
eie genus, Anomalospiza, verskuif.
Die genusnaam is afgelei van die
woord ‘onreëlmatig’ (anomalous)
en ‘spiza’, die Griekse woord vir
vink. Die spesie naam imberbis kom
van die Latynse woord vir ‘baardloos’. |