Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 18 August 2010 02:49
Untitled Document

’n Wildboer kan nie vir ’n beter boom as die lekkerruikpeul vra nie. Tog moet veeboere versigtig wees vir dié boom. Blykbaar is die peule wat so lekker soet ruik, giftig vir mak bokke.

Dié kenmerkende peule lyk amper soos ’n string krale. Hulle is plat en kan reguit wees of ’n effense kurwe hê en is vlesig wanneer hul jonk is met rooierige hare. Wanneer die jong peule beskadig word, kom daar ’n taai vloeistof uit wat die Voortrekkers gebruik het om ink en kleurstowwe, rooi, swart en geel, mee te maak.

Later word die volwasse peule ’n donker swarterige kleur wat diep ingeduik is tussen elke saad. Hulle bars nie oop aan die boom nie, maar verkrummel op die grond om aparte saadjies bloot te stel tussen Maart en September.

Die bas gee ’n eetbare gom af wat tradisioneel vir medisinale doeleindes gebruik is. Die Zoeloes gebruik ’n aftreksel van die stam as hoesmedisyne. Ander dele van die boom word gebruik om oogsiektes te behandel of as kalmeermiddel en selfs as prikkelmiddel.

’n Wortelekstrak is gebruik in die behandeling van tuberkulose, impotensie, diarree, tandpyn, maagpyn, bloeding en gonorree. Ekstrakte gemaak van die blare word gebruik in die behandeling van menstruele probleme, sere wat met melaatsheid verband hou, swere, spysverteringsprobleme en ook vir bloeding.


Die lekkerruikpeul se geel blomme
Foto: Wikipedia

Die lekkerruikpeul is ’n medium tot groot boom wat ’n hoogte van 10 meter kan bereik met ’n gemiddelde hoogte van vier tot sewe meter. Die bas is donker grys of bruin in volwasse bome en is diep gegroef. Die jong takke is glad en grys tot bruin en die klein takkies is bedek met kort haartjies.

Die boom het veeragtige blare en klein geel blommetjies wat tussen die blare gedra word. Die blomseisoen is van September tot Januarie, maar dit hang van die reënseisoen af.

Die lekkerruikpeul, Acacia nilotica, kry die ‘Acacia’ deel van sy naam van die Griekse woord ‘akis’ wat ‘skerp punt’ beteken. ‘nilotica’ verwys na die feit dat die boom langs die Nylrivier voorkom en ‘Kraussiana’, sy subspesienaam, verwys na dr Christian Ferdinand Friedrich von Krauss, ’n Duitse bioloog en professor aan die Universiteit van Stuttgart, wat in Suid-Afrika gereis en biologiese voorbeelde versamel het. Hy het van 1812 tot 1890 gelewe.


Peule
Foto: Plantzafrica

Dié semi-bladwisselende boom sal in die meeste tuine groei, alhoewel hy ryp nie altyd baie goed hanteer nie. Hy is droogtebestand en kan maklik gegroei word van saad. Alle sade moet behoorlik skoongemaak word. Los die sade in warm water vir ’n paar ure of oornag.

Saai die sade in aparte sakkies omdat hulle baie vinnig ’n penwortel ontwikkel. Die sade ontkiem redelik vinnig na sewe tot 15 dae. Die lekkerruikpeul groei stadig.

 

© 2024 Die/The Bronberger