Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 26 March 2010 16:48
Untitled Document

Moenie dink dat dit net die migrerende koekoeke is wat hul eiers in ander voëls se nessies lê nie. Die koningrooibekkie doen dit ook, maar sy kuikens vernietig ten minste nie die pleegouer se eiers of kuikens nie.

Koningrooibekkies parasiteer hoofsaaklik op sysies, asook klopkloppies, frette en langstertjies. Twee tot vier eiers word in die pleegouer se nessie gelê en as die indringerkuikens uitbroei, aap hulle ewe netjies die ander kuikens in die nes na.

Die koningrooibekkie is ongeveer 12 cm lank en in die broeiseisoen het die mannetjie ’n reuse stert van 22 cm. Dié stert is ’n ding wat behoorlik vertoon word. Die vertonende mannetjie volg ’n ingewikkelde ritueel waar hy in die lug bo die wyfie fladder en sy stert op en af ruk terwyl hy aanhoudend ‘tseeettseet- tseet’ roep om aandag op homself te vestig.


Koningrooibekkie
Foto: Wikipedia

So ’n broeiende mannetjie is onmiskenbaar; hy is swart aan die bokant met ’n wit agternek en onderste dele, ’n rooi snawel en verlengde stertvere. Hy verskil van die pylstertrooibekkie-mannetjie deur die afwesigheid van spatelvormige punte aan sy spog-stert en deurdat hy onder wit en nie dofgeel is nie.

As die broeiseisoen verby is, begin hy nes sy wyfie lyk: bo-op dofgeel, onder ligkleurig en met ’n duidelik gestreepte swart-en-dofgeel kop. Jy kan die mannetjie en wyfie egter onderskei deur na die snawel te kyk; die mannetjie se snawel is rooi en die wyfie s’n is bruin. Onvolwassenes is ’n effekleurige bruin.

Koningrooibekkies is aggressiewe voëls wat ander spesies wegjaag by voerplekke. Hulle vreet hoofsaaklike sade, maar sal ook insekte vreet, en bly in grasveld, savanne, struikgewasse, tuine en parke.

 

 

 

© 2024 Die/The Bronberger