As jy wil tee maak, maagpyn
wil behandel, voëls na jou
tuin wil lok, ’n knopkierie wil
maak of ’n heining wil plant, is die
koeboebessie jou boom. Elke liewe
deeltjie van die boom, van sy hout
tot sy blare, bas en vrugte, kan
gebruik word.
Sy hout is hard en sterk en maak
goeie handvatsels vir implemente
soos byle, pikke en skoffels. Dit
word ook gebruik om houtlepels,
vysels en bykans onbreekbare knopkieries
te maak.
Selfs die boom se wetenskaplike
naam verwys na dié primêre doel.
Die koeboebessie, Mystroxylon
aethiopicum, se genusnaam is van
Griekse oorsprong waar ‘mystro’
lepel beteken en ‘xylon’ hout.
Sy spesienaam, aethiopicum, is ’n
Latynse woord wat ‘vanaf Afrika’
beteken en aandui dat hy wydverspreid
dwarsoor ons kontinent
voorkom. Die koeboebessie behoort
aan die Celastraceae familie, wat
omtrent 60 spesies in suidelike Afrika
het en tel as een van die tien
grootste boomfamilies in die streek.
![](/images/stories/mar2010/onso.jpg) Die koeboebessie
Foto’s: Making the most of indigenous trees
Doepa
’n Verskeidenheid doepas word van
dié boom se bas gemaak. ’n Melkerige
aftreksel wat van die bas voorberei
word, word gebruik om
wurms in vee te behandel. Die bas
word ook gebruik as medisyne om
maagpyn, bloedarmoede en hoesbuie
te behandel. En dan kan jy
boonop nog leer looi van die bruin
kleursel wat deur die bas afgeskei
word.
Die bas van jong takke is groen en
sagharig, maar donkergrys en grof
by ouer takke en stamme. Die
Masai-stam gebruik die vars blare
om tee te maak en die fyngekapte
blare as voëlent.
Die koeboebessie dra trosse geelgroen
blomme met ’n sterk geur
van Oktober tot Desember. Die
vrugte is ’n vlesige, ovaalvormige
tot ronde, rooi tot pers steenvrugte
wat tot 20 mm in deursnee is. Hulle
is eetbaar, maar bitter as hulle nog
nie heeltemal ryp is nie.
![](/images/stories/mar2010/onso2.jpg)
Vrugte
Lok
Wanneer die koeboebessie oortrek
is met vrugte, lok hy voëls soos
swartoogtiptolle, groot papegaaie,
papegaaiduiwe, bosveldfisante en
bloukuifloeries. Die vrugte word ook
deur bobbejane, samango-ape,
blouape, bosvarke, vlakvarke,
gewone duikers, rooiduikers, koedoes
en njalas gevreet.
Die bas en blare word deur swartrenosters
gevreet en die blare deur
vee en wild soos blouwildebeeste,
koedoes, njalas, rooibokke, gewone
en rooiduikers.
Die koeboebessie is ’n immergroen
boom, gewoonlik ongeveer ses
meter hoog, maar kan 15 m bereik,
met ’n ronderige kroon. ’n Groep
van dié bome vorm ’n digte heining
wat gebruik kan word om stof,
wind en geraas te keer. Hy groei
ook goed in ’n pot en kan maklik
gesnoei word. Sy wortelstelsel is
glad nie aggressief nie, hy kan
ligte ryp verdra en is droogtebestand.
Groei
Koeboebessies groei van saad.
Verwyder enige vrugvlees van die
saad en druk in saailingbakke gevul
met ’n 1:1 mengsel van riviersand
en kompos. Hou vogtig op ’n warm
plek. Sade neem twee tot drie weke
om te ontkiem, maar ontkieming is
wisselvallig.
Plant die saailinge in kwekerysakke
oor in ’n 1:2:1 mengsel van riviersand,
leem en kompos. Hou hulle ’n
maand of twee in ligte skadu en stel
hulle daarna geleidelik bloot aan
volle son. Jong bome kan na een
seisoen in oop grond uitgeplant
word en groei 400-500 mm per
jaar. |