Die boom maak visse dood Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 20 February 2008 02:00
Untitled Document

Die bas en sade van die kurkbos word gebruik om visse te laat vrek. ’n Fyngemaakte mengsel hiervan word in ’n sakkie gesit en in die water gegooi om visse dood te maak sonder dat die mense wat die vis eet, enige iets oorkom.


Só lyk die kurkbos se stam

Dit is hoekom die kurkbos, Mundulea sericea, ook bekend staan as visgifboom of visboontjie. Die boom se blare, bas en wortels word ook gebruik in tradisionele medisyne.

Mak sowel as wilde diere, soos olifante, kameelperde, elande en rooibokke, vreet dié blare sonder om iets oor te kom. Larwe van skoenlappers vreet ook die blare en ’n verskeidenheid suikerbekkies drink die blomme se nektar.

Die kurkbos is maklik om uit te ken as hy blom. Hy dra besonderse bloeiseltakke van ertjie-agtige pers blomme wat die boom oortrek van Oktober tot Februarie. Jy kan die boom ook uitken aan sy kenmerkende kurkagtige stam. Die kurkagtige voorkoms verskyn as die boom ongeveer ses maande oud is. As hy twee jaar oud is, ontwikkel die bas diep groewe en word baie grof.


Die kurkbos dra pragtige pers blomme

Die kurkbos dra pragtige pers blomme

Sy blare is bedek met syerige, silwer haartjies wat kan maak dat die blare grys-blou voorkom. Die peule is bedek met goudbruin, fluweelagtige hare wat grys word as hul ouer word. Die vorige jaar se peule kan aan die boom bly met die volgende blomseisoen.

Dié boom word twee tot vyf meter hoog en is baie gewild as potplant en bonsai omdat hy altyd netjies en interessant lyk met of sonder blomme. Hy begin blom as hy maar net 150-200 mm hoog is. Dit is die perfekte boom vir ’n klein tuin omdat hy nie ’n aggressiewe wortelstelsel het nie.

‘n Kurkbos kan maklik van saad af gekweek word. Laat die saad oornag in warm water week en saai die volgende oggend in saailingbakke wat gevul is met ’n 1:1 mengsel van riviersand en kompos. Bedek die sade ligweg en hou klam. Hulle ontkiem na vier tot 10 dae.

Jy kan die saailinge oorplant as hulle die twee-blaar stadium bereik, maar wees versigtig om nie die penwortel te beskadig nie. Dit sal die boom se groei vir ’n hele seisoen lank belemmer. Dié is ’n baie geharde boom en is droogte- en rypbestand. Hy groei omtrent 0,5 – 1 meter per jaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger