Nagtegaal kan gaan slaap Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 21 January 2010 11:32
Untitled Document

Wie sou nou kon raai dat ’n lyster ’n nagtegaal kan uitstof? Volgens baie voëlkykentoesiaste is die gevlekte lyster die sangvoël wat die mooiste in die wêreld sing. Hy is ook een van die voëls wat die maklikste mak word, soos menige Bronberger sal kan getuig.

Al behoort hy aan die lyster-familie, Turdidae, is die gevlekte lyster, Psophocichla litsipsirupa, die enigste spesie in sy genus. Sy spesienaam ‘litsipsirupa’ is klanknabootsend van sy sang, ’n helder en afwisselende fluitfrase.

Daar is vier subspesies van dié besonderse sangers, P. l. pauciguttatus, P. l. stierlingae, P. l. simensis en ons eie litsipsirupa, die een wat die verste suid voorkom.

Die voëltjie word 22-24 cm lank. Hy het ’n penorent houding, kort stertjie, swaar snawel en relatief lang bene. Sy boonste vlerke is gryserig met ’n kastaiingbruin paneel op die vlerk wat sigbaar is in vlug. Sy onderste dele is ’n swart-en-wit patroon en hy het duidelike swart gesigmerke.


Die gevlekte lyster
Foto: Wikipedia

Die geslagte lyk eners en onvolwassenes is naaswit gespikkel op hul onderste dele met opvallende wit punte aan die vlerkvere. Hul vlekke is kleiner as dié van volwassenes. Jy kan die volwasse gevlekte lyster van die Natallyster onderskei deur die afwesigheid van wit strepe op sy vlerkvere en deur duideliker, meer kontrasterende swart gesigmerke.

Hulle bly ook in heeltemal verskillende habitatte. Waar die gevlekte lyster in droë doringveld, oop breëblaarboswêreld, parke en tuine woon, word die Natallyster gevind in die onderste vlak van immergroen kuswoude.

Die gevlekte lyster se nessie is koppievormig en word gebou met plantmateriaal en spinnerakke wat uitgevoer word met vere of blare. Drie of vier eiers word gelê wat 14 tot 15 dae vat om uit te broei. Die eiers is blouerig met ligpers en rooibruin spikkels en vlekke. Beide ouers help om die kleintjies groot te maak.

 

© 2024 Die/The Bronberger