Hy sorg vir die heel beste kieries Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 21 January 2010 11:31
Untitled Document

Die kierieklapper kry sy naam omdat sy jong takke amper perfek reguit groei en tradisioneel die ideale sterk kieries gemaak het.

Die hout van dié kleinerige boom is so sterk dat dit gebruik word as stutte in myne en as handvatsels vir pikke en byle. Goeie kwaliteit meubels, veral stoele en koffietafels, word van dié boom gemaak. Sy hout is ideaal vir heiningpale omdat dit termiet en insek-bestand is en sy stompe maak ’n goeie braaivleisvuur omdat die kole so lank hou.

Jy kan tee, wat blykbaar net soos gewone tee proe en lyk, van die kierieklapper se vrugte maak. Die vrugte moet egter nie te lank gekook word nie, anders word dit bitter.

Die kierieklapper, Combretum hereroense, kan tot tien meter hoog word. Sy blare word gevreet deur vee en ’n verskeidenheid wildsoorte soos olifante, kameelperde, koedoes, njalas, rooibokke en steenbokke.


Kierieklapper
Foto: Making the most of indigenous trees

Sy blomme lok baie vlinders en perdebye, met ’n verskeidenheid insekvretende voëls op hul hakke. Die boom blom van September tot November. Romerige tot geel blommetjies met ’n soet reuk verskyn voor die boom blare kry.

Die rooibruin vrugte, wat waarskynlik verantwoordelik is vir die ‘klapper’ deel van die boom se naam, het vier prominente vlerke soos alle bome in die Combretum-familie. Die vrugte word van Januarie tot Junie gedra. Hulle is baie duidelik sigbaar en laat dit lyk asof die boom ’n koperkleurige kroon dra.

Die kierieklapper het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie, is droogte- en tot ’n seker mate rypbestand. Die boom groei goed in dekoratiewe potte en met ’n bietjie snoeiwerk, kan hy ’n netjiese vorm aanneem. Hy is een van die beste boomspesies om ’n bonsai van te maak omdat die bonsai na slegs drie jaar soos ’n volwasse boom begin lyk.


Die vrugte het vier prominente vlerke

Jy kan dié boom van saad af groei. Gebruik vars sade, omdat dié op die grond waarskynlik besmet is met insekte. Verwyder die saad van sy gevleuelde omhulsel en week oornag in water.

Saai die saad in saailingbakke in ’n 5:1 mengsel van riviersand en kompos. Die saad sal binne ’n week of twee ontkiem. Plant die plantjies oor in swart sakke as die saailing die drie-blaar stadium bereik.

Die boompies sal vir die eerste drie tot vier jaar baie vinnig groei, maar groei daarna stadiger om ’n hoogte van vier meter in 12 jaar te bereik.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger