Sandplan kry groen lig Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Mtluva Mining het omgewingsmagtiging gekry om op bykans 965 000 hektaar van die plase Onbekend en Kameelzynkraal te prospekteer.

Die departement van minerale bronne en energie het dié magtiging op 20 Mei uitgereik en geregistreerde belanghebbende partye het 20 dae daarna gehad om teen die besluit te appelleer.

In Junie verlede jaar het ons berig dat Onbekend en Kameelzynkraal se inwoners bekommerd is oor die toekoms, sou die prospekteerregte in dié landbougebied toegestaan word.

Mtluva Mining wil prospekteer vir verskillende soorte sand, soos betonsand, bousand, vergruiser-sand, opvullingsand, gieterysand, glassand, algemene sand en silikasand, sowel as aggregaat en allerhande soorte klip en klei. Silikasand is bekend vir ’n hoë risiko vir silikose, ’n longsiekte veroorsaak deur inaseming van silika, kwarts of leiklip-deeltjies.

Die projekgebied is ongeveer 20 km suid-wes van Bronkhorstspruit. Toegang tot die gebied is met ’n grondpad wat aan die Witpoortpad (Garstfonteinweg-verlenging of die M30) verbind is, ongeveer 1,2 km oos van die Bronkhorstspruit-Bapsfonteinpad (R25) en M30 kruising.

Die voorgestelde projek behels die boor van omtrent 10 gate om mineraalafsettings, kwantiteit, ekonomiese lewensvatbaarheid en moontlikhede om die projek na ’n lewensvatbare myn om te skakel, te bepaal. Die prospekteerdery sal vir vyf jaar duur en dit kan vir ’n verdere drie jaar hernu word, indien nodig.

Volgens die departement van minerale bronne en energie is ’n voldoende openbare deelnameproses afgehandel. Inwoners het verlede jaar beswaar gemaak teen die manier waarop openbare deelname-vergaderings gedoen is en het gesê dat die korrekte prosedures nie gevolg is nie. Hulle het ook beswaar gemaak teen die verslae en het gesê dat daar ernstige foute in is, dat dit onvolledig is en dat sekere inligting nie wettiglik bekom is nie.

Die departement het in die magtiging gesê dat omgewingsimpakte, wat met die voorgestelde aktiwiteite verband hou, aangespreek sal word deur die toepassing van die voorgestelde versagtende maatreëls wat in die basiese beoordelingsverslag uiteengesit is. Volgens die departement is die potensiële impakte op die persele duidelik ondersoek.

Al die eiendomme wat deur die voorgestelde myn geraak sal word, is landbougrond. Plaashuise, store, lande, lewende hawe, weiding, heinings en aangeplante gewasse sal in die slag bly, sou daar gemyn word. Dit sal ’n verlies aan inkomste en sake van almal wat daar boer tot gevolg hê asook die koste om in ’n nuwe gebied te hervestig.

Inwoners is veral besorg oor die invloed van dié aktiwiteite op die grondwater en almal se waterbronne, insluitende Laerskool Witpoort. Hulle sê dat dit ook ’n toename in verkeer op ’n baie gevaarlike pad sal veroorsaak.

Ander besware teen ’n sandmyn is die impak op verskeie spesies diere en plante wat bedreig of skaars is; ’n toename in stof en lugbesoedeling; die geraas van groot masjinerie en toerusting, die migrasie van wilde diere, vernietiging van die natuurlike omgewing en veiligheidskwessies met die toename van werkers in die gebied.

 

© 2024 Die/The Bronberger