Ontmoet die Bronberg se ondergrondse boom Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 10 December 2009 18:27
Untitled Document

Al ooit gehoor van ’n ondergrondse boom? Dit is blykbaar wat die basboontjie, Elephantorrhiza burkei, is.

Die ‘elephantorrhiza’ deel van sy naam verwys na olifantwortel omdat baie mense sê dat dié boom ’n reuse ondergrondse stam het en net ’n paar dun ou takkies bogronds wys. Met die ‘burkei’ deel van sy naam is hy vernoem na Joseph Burke, ’n botanikus en dierkundige versamelaar wat van 1812 tot 1873 gelewe het.

Die reuse wortel, en veral die wortelbas, word in stukke gekap en in water laat lê sodat die tannien met die water kan meng. Leer wat met dié mengsel gelooi word, kry ’n tipiese rooi kleur.

’n Aftreksel van die basboontjie se wortels word tradisioneel gebruik om diarree te behandel en as ’n anti-braakmiddel.

Dié boom is ook gewild onder byeboere omdat bye wat sy nektar inkry ’n besonderse heuning met ’n kenmerkende smaak, maak.


Sade in die basboontjie se peul
Foto: Aluka

Die basboontjie is ’n bladwisselende boom wat ongeveer ses meter hoog word. Hy het veeragtige blare en dra van Oktober tot November lekkerruik, roomkleurige blomme.

Die blomme lok hordes insekte, wat op hulle beurt weer baie insekvretende voëls nader lok.

Sy vrugte is ’n plat rooibruinerige peul wat aan die boom hang van Februarie tot Mei, selfs nadat hy sy blare in die begin van die winter verloor het.

Die basboontjie kom op rotsagtige riwwe en teen berghange voor en aard goed op ’n rotstuin as hy vol son kry. Hy het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie en hou nie daarvan om gesnoei te word nie.

Dit is nie moeilik om ’n basboontjie te kweek nie. Die vars sade moet betyds uit die peule wat besig is om bruin te word, gehaal word en in die skadu drooggemaak word. Ná die sade droog is, moet jy hulle weer natmaak. Plaas in ’n houer, gooi kookwater oor en laat oornag staan.


Basboontjie
Foto: Making the most of indigenous trees

Die sade kan dan in saailingbakke in ’n 1:1 mengsel riviersand en kompos geplant word. Bedek die sade liggies met ’n 5 mm laag sand en hou klam. Hulle sal gewoonlik na 10 dae begin ontkiem.

Plant dié saailinge uit in sakkies as hulle die twee-blaar stadium bereik, maar wees versigtig om nie die wortels te beskadig nie. Die basboontjie groei stadig, tot 500 mm ’n jaar, maar hy kan ’n sekere hoeveelheid ryp hanteer en is droogtebestand.

 

© 2024 Die/The Bronberger