Somer in die Bronberg-gebied
sal nie somer wees sonder die
piet-my-vrou se roep nie.
Menige mense sê dat dié roep, wat
dwarsdeur die dag en nag weergalm
in die broeiseisoen, hulle tot raserny
dryf. Tog word die piet-my-vrou
bykans nooit gesien nie.
Die piet-my-vrou is ’n somerbesoeker
wat stil-stil in die lente by ons
aankom. Hy begin eers ’n rukkie
later roep as die broeiseisoen begin.
Die driftige roep neem af soos wat
die seisoen loop en vroeg in die
nuwe jaar word die note langer,
meer uitgerek en minder kenmerkend,
soos ’n koekoek-horlosie wat
besig is om af te loop. Teen einde
Januarie is hy feitlik stil en teen
einde Februarie is hy weer weg na
sentraal Afrika.
Die piet-my-vrou het sy naam gekry
na aanleiding van die woorde wat
hy roep en baie boere meen dat sy
roep goeie weer voorspel. Die voël
se Zulu-naam, ‘Uphezukomkhono’,
verbind hom aan die seisoen van sy
verskyning. Vir hulle lei die piet-my-vrou
se roep die saaiseisoen in. Die
letterlike vertaling van sy Zulu-naam
beteken ‘bo-aan die arm’ en verwys
na die skoffels wat land toe gedra
word.
![](/images/stories/des2009/onso1.jpg) Piet-my-vrou
Foto: Wikipedia
Parasiet
Die piet-my-vrou is ’n parasitiese
broeier wat ’n enkele eier in die
neste van ander voëls lê, gewoonlik
die janfrederiks. Hulle kan egter ook
eiers lê in die lysters, vlieëvangers,
bontrokkies en die bergklipwagter,
swartpiek, dassievoël en Hererospekvreter
se nessies.
Die koekoek-eier broei gouer as die
ander uit, sodat die piet-my-kuiken
van die ander eiers ontslae kan raak.
In sommige voëlspesies se nessies,
raak hy nie van die eiers ontslae nie,
maar wag tot hul uitgebroei het. Die
kuikens word dan op die piet-my-kuiken
se hol rug oor die rand van
die nessie gestoot.
Met die onverdeelde aandag van sy
stiefouers groei hy vinnig en verdwerg
hulle naderhand. Op 10 dae
is die piet-my-vrou twee keer die
grootte van ’n volwasse janfrederik.
In dié stadium sit die janfrederik
gewoonlik op die kuiken se rug om
hom te voer.
Grys
Die grys piet-my-vrou se kastaiingbruin
bors is diagnosties en dit is
ook waar sy Engelse naam, ‘Redchested
Cuckoo’, vandaan kom. Die
geslagte lyk eners en die onvolwassenes
is sonder die rooierige bors en
is gewoonlik swart bo-op en het wit
onderste dele met duidelike swart
dwarsstrepe.
Daar is vier baie enerse grys
koekoeke, naamlik die piet-my-vrou,
Europese koekoek, Afrikaanse
koekoek, en die kleinkoekoek. Die
kleinkoekoek is egter so seldsaam
dat jy maar met ’n geruste hart van
hom kan vergeet en behalwe die
piet-my-vrou sal jy die ander twee
nie sommer in Bronbergwêreld kry
nie.
Die Europese- en Afrikaanse
koekoek en piet-my-vrou lyk so
eners dat die kenners mense aanraai
om eerder met hulle roepe
vertroud te raak en hulle so te
probeer uitken. Onthou net dat piet-my-vrou se wyfie ’n ander roep het
as die mannetjie. Sy maak ’n skril
‘pipipipipi’-geluid.
Ander
Die Europese Koekoek is egter botstil
terwyl hy in Afrika is omdat hy
nie hier broei nie. Hy roep blykbaar
net ‘koekoek’ in die Europese
somer. Die Afrikaanse koekoek se
roep klink nogal soos ‘koekoek’
agterstevoor gesê.
Hy is bekend
daarvoor dat hy op die mikstertbyevanger
parasiteer en lê ’n enkele
eier in die byvanger se nes. Sodra
die groot koekoek-kuiken uitbroei,
stoot hy die byevangerkuikens of
–eiers uit die nes. |