Blaaspootjies help in stryd teen pers verpesting Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 23 February 2024 08:00
Untitled Document

“Ons is bly om te berig dat die blaaspootjies hulle werk in die stryd teen pom-pom onkruid goed doen.”

So het Vriende van Moreletakloof teen die einde van Januarie gesê oor die insekte wat as biologiese beheermaatreël op 14 Desember verlede jaar in die reservaat vrygelaat is. Dié reservaat gebruik reeds ’n paar jaar lank blaaspootjies, Liothrips tractabilis, wat die onkruid beskadig.

Dié blaaspootjie-larwes en volwassenes vreet die stamme en blare by die apikale loot-punte. Dit lei na misvorming, wat die plant se hoogte, biomassa en blomproduksie verminder. Blaaspootjies se eiers is ’n ligte oranje kleur en dit duur ongeveer 28 dae om van eier tot volwasse fase te ontwikkel. Die volwassenes is swart en kan goed vlieg. Onvolwassenes is oranje met stukkies swart en hulle kan nie vlieg nie.


Blaaspootjies in verskeie lewensfases
Foto: Vriende van Moreletakloof – Rouxne Botha

Die pom-pom se blomseisoen is tussen Desember en Maart. Dié kategorie een onkruid neem ongerepte grasveld oor. Dit is onwettig om die plant te kweek, te verkoop of op jou grond te laat groei.

Pom-pom, Campuloclinium macrocephalum, is ’n ornamentele Suid-Amerikaanse kruid wat aan die madeliefie-familie, Asteraceae, behoort. Die plant maak duisende saadjies wat deur hulle klein ‘sambreeltjies’ in die wind versprei word.


Die pom-pom neem grasvelde oor
Foto: Vriende van Moreletakloof

Pom-pom kan by baie soorte groeitoestande aanpas en kan in feitlik enige grondtipe floreer. Hulle oorleef veldbrande sowel as ryp en droogte omdat dit wat jy bogronds sien omtrent net 30% van die plant se biomassa is. Die res leef ondergronds en rus in die wintermaande. In droogtetoestande onttrek die plant voedingstowwe van sy bogrondse stam na sy wortelstelsel.

Fisiese plantbeheer, soos skoffel of ploeg, is nutteloos omdat versteuring verdere wortelgroei stimuleer. Om die stamme af te sny voor die blomme saad produseer werk ook nie altyd nie, omdat die plant sal aanhou stamme groei, wat verskeie kere in een groeiseisoen teruggesny moet word.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger