Tou is gevaarlik vir voëls Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 26 January 2024 22:00
Untitled Document

Stukkies tou, garing, vislyn, repies van seilsakke wat uitrafel en selfs die sakkies waarin seker groente verkoop word, kan ’n voëltjie se dood veroorsaak.

Dit is die boodskap wat die Suid-Afrikaanse Wildrehabilitasiesentrum aan mense wil oordra ná hulle op 9 Januarie ’n olyflyster op Bapsfontein gaan red het. ’n Plaaslike egpaar het die sentrum geskakel om te sê dat dié lyster bo in ’n boom gehang het.


’Twee van die lyster se tone was in ou, verharde tou vasgestrengel
Foto: Suid-Afrikaanse Wildrehabilitasiesentrum

Ná ure se sukkel is die lyster uiteindelik bereik. Twee van sy tone was in ou, verharde tou vasgestrengel en die gekoekte gemors het in die boom vasgehak. Die lyster se been is bo die voet afgesny en dieselfde been is heeltemal uit lit geruk, waarskynlik weens die voël se gesukkel om los te kom. Die ander been se gewrig is beseer.

Weens dié barmhartige Samaritane is die lyster nie net hangend in ’n boom gelaat, besig om van honger en pyn om te kom nie.

Advies is om alle stukkies tou, garing of vislyn op te sny voor dit weggegooi word, want op die ashope gaan dit nie lank binne-in ’n toe sak bly nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger