Om die bos gelei oor plantasies en papier Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

Dit is tyd om die mites oor die bosbou- en papierbedryf aan te spreek. Ons is almal geleer om bome te beskerm. In die proses het ons begin glo dat die produksie van papier ontbossing veroorsaak en dat die gebruik van digitale vorms van kommunikasie, advertering en lees ons planeet sal red.

So sê Jane Molony, uitvoerende direkteur van die Papiervervaardigers Vereniging van Suid-Afrika. Sy verduidelik hoekom ons – jy kan maar sê – om die bos gelei is. Sy sê dit is nodig om agter die kap van die spreekwoordelike byl te kom en uit te vind hoekom ondernemings en verbruikers dink dit is sleg om papier te gebruik.

Die produksie van hout en papier veroorsaak nie ontbossing nie, sê sy. Dit is nie asof inheemse woude verwoes word nie. In Suid-Afrika word bome gekweek – net soos koring of mielies geplant en geoes word – net met ’n langer rotasiesiklus.

Daar is altyd bome op verskillende stadiums van volwassenheid aan die groei en bosboumaatskappye gebruik dieselfde grond oor en oor met duisende hektaar wat geouditeer, gesertifiseer en volhoubaar bestuur word.

Jane sê ontbossing is die verwydering van bome sonder dat daar weer geplant word, en as daar ’n verandering in grondgebruik is, soos om met beeste te boer, voorstedelike ontwikkeling of menslike nedersettings. Natuurlik is ontbossing ’n groot bekommernis in baie ontwikkelende lande waar onwettige stroping van tropiese woude teen ’n kommerwekkende tempo voortbeur.

Dit is hoekom bosbou-sertifikasie so belangrik is. Verbruikers kan hulle mag uitoefen deur slegs papierverpakking, boeke of ander hout-gebaseerde goedere te koop met ’n FSC (Forest Stewardship Council) of PEFC (Programme for the Endorsement of Forest Certification) etiket. Dié sertifikasie-simbole dui aan dat die hout of papier van volhoubare bronne afkomstig is.


Jane Molony
Foto: Verskaf

Digitaal
Volgens Jane is verbruikers onder die indruk dat alles digitaal beter is vir die omgewing, maar hulle verstaan nie dat tonne metaal, kabels, waaiers, skakelaars en elektrisiteit nodig is om web-bedieners van krag te voorsien en hulle koel te hou nie. Ons sien ook nie die berge elektroniese afval wat opbou nie.

Alle papierprodukte ontstaan as houtvesel en dié produkte is almal hernubaar en herwinbaar. TechTarget haal statistieke aan van die Internasionale Energievereniging wat aantoon dat die wêreld se dataversendingsnetwerke en -sentrums jaarliks verantwoordelik is vir bykans een persent van energie-verwante wêreldwye kweekhuisgasvrystellings en vir omtrent 300 metrieke ton koolstofdioksied ekwivalent in 2020.

’n Studie deur die Massachusetts Instituut van Tegnologie (MIT) het bevind dat wolk-datadienste nou ’n groter koolstof-voetspoor het as die algehele lugdiensbedryf en dat ’n enkele datasentrum die ekwivalent in elektrisiteit van 50 000 huise kan gebruik.


Saailinge word vir aanplanting gekweek
Foto: Mondi

Water
Nog ’n klagte teen bosbou is dat uitheemse bome te veel water gebruik. Jane sê dat ’n bloekomboom of denneboom natuurlik meer water sal gebruik as dit naby ’n waterloop geplant word. Dit is hoekom waterbestuur toegepas word en daar seker gemaak word dat bome nie buite buffersones tussen plantasies en riviergebiede geplant word nie. Daar is spesifieke programme wat seker maak dat sulke spesies, saam met ander uitheemse indringers, uit omgewingsensitiewe gebiede verwyder word.

Jane sê dat ons land se 1,2 miljoen plantasies nie besproei word nie en dat die gemiddelde jaarlikse watergebruik vir bosbouplantasies ongeveer drie persent van Suid-Afrika se totale waterverbruik is. Die besproeiing van landbougewasse is verantwoordelik vir 62% van waterverbruik en stedelike huishoudelike gebruik vir 23%.

“Ons moet ons feite regkry,” sê Jane. “Daar is altyd twee kante van ’n saak soos dié. Die digitale wêreld is ’n groot deel van hoe ons leef en floreer, maar ons doen die ekonomie en die samelewing nie ’n guns deur bosbou en die papierbedryf as ’n omgewingskurk te sien nie.”

Gekweekte bome, die drukkersbedryf en papier hoef nie met digitale media te kompeteer nie en vice versa. Die twee wêrelde kan mekaar komplimenteer en elk kan funksies vervul wat die ander een nie kan nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger