Krimpvarkies welkom, konyne nié Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

’n Krimpvarkie, wat deur honde in gevaar gestel is, is onlangs by Moreletakloof-natuurreservaat afgelaai. Hy is vrygelaat en is ’n welkome toevoeging tot die reservaat, waar meer krimpvarkies onlangs opgemerk is.

“Ons hoop hy vind gou nuwe vriende,” het Jeannie du Plessis, bestuurslid van Vriende van Moreletakloof, gesê.


Dié krimpvarkie is by die reservaat aangebring
Foto’s: Moreletakloof-natuurreservaat

Jeannie vra mense om asseblief geen konyne in die reservaat af te laai nie. Daar is ’n uitbraak van ’n baie gevaarlike virus wat al die inheemse hase in die reservaat sal doodmaak. “Hierdie is ernstig,” waarsku Jeannie.

Hemorragiese haassiekte (ook as konynbloedingsiekte bekend) het die afgelope paar maande amok in Gauteng veroorsaak. Groot vrektes van konyne in hokke by kommersiële boerderye is aangemeld en daar heers kommer oor wilde haasspesies wat aangetas word.


Die krimpvarkie ná sy vrylating

Gavin Grgurin, voorsitter van die Gautengse konyntelersvereniging, het gesê dat die siekte in September in sy hokke uitgebreek het en dat al sy konyne binne nege dae uitgewis is. Daar word elke dag omtrent 15 nuwe gevalle op die vereniging se WhatsApp-groep aangemeld.

Die RVHD-virus kan vir 90 dae buite sy gasheer aktief bly.

Bel Gavin by 081-765-0469 of stuur ’n e-pos na: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2024 Die/The Bronberger