Reddingspogings kan doodmaak Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 16 November 2023 12:00
Untitled Document

Baie mense wat ’n klein voëltjie se lewe probeer red, maak hom onwetend eintlik dood.

Naboom Dierebeskerming het onlangs ’n waarskuwing uitgereik dat ’n mens nooit water op ’n voëltjie se tong moet sit nie. Daar is ’n klein gaatjie agter die tong wat die voël se lugweg is. Een verkeerde druppel daar en dit beland in die voëltjie se longe.

Plaaslike voëlredder, Esmé Meyer, sê dat sulke voëls aspirasie-longontsteking kry wanneer water in die lugpypie kom. Hulle is binne drie tot vier dae dood.


Die klein gaatjie agter die voël se tong is sy lugweg
Bron: Naboom Dierebeskerming

“Met enige ander voëltjie in skok of pap om watter rede ook al, kan jy jou vinger in suikerwater natmaak – nie eens ’n druppel nie, maar goed nat – en liggies aan die kant van die bekkie raak. As die voëltjie self die nattigheid kan inwerk, is dit veilig,” sê Esmé.

“Met ’n pap suikerbekkie kan jy ’n lepeltjie suikerwater of heuningwater of ’n oopgesnyde druif reg teen die tippie van sy lang bekkie laat raak. Nie eens effe dip nie, net raak. As hy self sy ellelange tongetjie uitsteek en begin opsuig, is hy veilig.”

Naboom Dierebeskerming sê jy kan water langs volwasse voëls wat gedehidreer is, neersit sodat hulle self kan drink. Jy kan ook ’n oorstokkie in water druk en ’n klein bietjie klammigheid aan die kant van die snawel smeer. Maak net seker jy vermy die neusgate.

 

© 2024 Die/The Bronberger