Konfyt, asyn, mampoer en doepas kom uit dié boom Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 18 August 2023 08:00
Untitled Document

Besoekers aan die Bronberggebied is dikwels verstom oor die feit dat die stamvrug, wat grootliks as ’n bosveldboom beskou word, hier groei. Dié boom is vernoem na sy vrugte wat dig saamgepak teen die stam sit, en waarvan stroop, konfyt, tertjellie, asyn, wyn en mampoer gemaak kan word.

Die vrugte is ryk in kalium en vitamiene C, 40 mg in elke 100 gram, en is in allerhande tradisionele doepas gebruik. Daar word gesê dat ’n aftreksel van verpoeierde wortels en vrugte epilepsie kan genees. Verpoeierde wortels word ook gebruik teen rumatiek. Jy moet glo klein snytjies in die vel maak en die poeier daarin vryf. ’n Afkooksel word gebruik om maagpyn te behandel.


Blare en vrugte wat nog nie ryp is nie
Foto’s: Wikipedia

Die elliptiese vrugte kan tot 2,5 cm lank word en is oranje tot dieprooi as hulle in Desember ryp word. Die vrugte is heerlik soet wanneer ryp en kan net so geëet word. Die binnekant van die vrug is ligpers en die vlees sit aan die pit vas. Hoe nader aan die pit ’n mens eet, hoe suurder proe die vrug. Die meeste mense beveel aan dat die vlees van die pit af gesuig en nie gekou word nie.

’n Mens maak stamvrugkonfyt presies soos appelkooskonfyt. Halveer die vrugte en verwyder die pit. Vir elke 500 gram vrugte voeg ’n mens 500 gram suiker by. Kook dit fyn soos vir appelkooskonfyt en voeg ’n bietjie suurlemoensap of gemmer by.

As jy stamvrugasyn wil maak, moet die vrugte tussen Desember en Februarie gepluk word. Kneus dit goed, plaas in ’n houtvaatjie en bind ’n doek bo-oor. Laat die vaatjie dan staan om te gis. As dit begin gis, kan die sap deurgesyg word en in flesse gegooi word om verder ryp te word.


Die stamvrug in sy natuurlike rotsagtige habitat

Boom
Op klipperige koppies word die stamvrug, Englerophytum magalismontanum, nie baie hoog nie, net so 3–5 m. Tog kan die boom tot 10 m hoog word in woude.

Dié immergroen boom se bas is redelik glad, maar word bedek met klein, bruin tot swartkleurige knoppies, waarop die blomme en vrugte gedra word. Die klein roomkleurige blommetjies is dig saamgebondel, hoofsaaklik aan ouer blaarlose dele van die hoofstam en takke en het ’n sterk reuk.

Die boom se donkergroen kroon is gewoonlik baie dig en die jonger takkies is roesbruin. Die glansende, donkergroen blare is relatief groot en word soms met ’n waslaag bedek wat maklik afgevryf kan word. Jong blare is met rooibruin hare bedek. Die parallelle sy-are is onopvallend en aan die onderkant van die ouer blare is daar hare wat rooibruin tot liggeel en soms silwerig is.


Ryp vrugte

Die stamvrug is ’n geharde boom wat ryp- en droogte-bestand is. Tog word dié boom maar selde kommersieel gekweek. Dit kan van saad of stiggies gekweek word. Die beste tyd om die saad te plant is in Januarie, terwyl die sade nog vars is.

Die ontkiemingstydperk is omtrent 37 dae en die plante is twee maande later groot genoeg om oor te plant.

 

© 2024 Die/The Bronberger