Tierboskat maak sy opwagting Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 21 April 2023 11:10
Untitled Document

’n Opgewonde Katherine du Plessis het teen die einde van Maart op die Bronnie se Facebook-blad laat weet dat daar pas ’n baie ongewone besoeker op hulle plaas op Byenespoort kom kuier het.  

“Ons het net ’n kat in die boom gesien. Toe ons gaan kyk, sien ons dat dit ’n tierboskat is,” het sy gesê. Die plaas is sowat een kilometer vanaf die T-aansluiting by die ou R&R Slaghuis.

Tierboskatte is skaam en ontwykend en is meestal nagdiere, alhoewel hulle in die dag ook aktief kan wees. Hulle aktiwiteite piek in die vroeë oggende, rondom skemer en teen middernag. Op koel of reënerige dae is hulle langer in die oggende aktief.


Die tierboskat staar stip na die fotograaf
Foto’s: Katherine du Plessis

Tierboskatte gebruik die reuk van urine en ontlasting om hulle groot grondgebied van 10-30 vierkante kilometer te merk en hulle loop elke nag so ver as twee tot vier kilometer. Die mannetjies beweeg oor groter gebiede as die wyfies.

Hulle vermy kontak met ander katte waar moontlik, alhoewel hulle grondgebiede nie eksklusief is nie. Dié katte is enkellopers, behalwe tydens paring of terwyl die ma na haar welpies omsien.

Die wyfie is 68-72 dae dragtig en werpsels van drie tot vier word in dik grasbedekkings gebore – gewoonlik teen die einde van die somer. Sy moet haar werpsel agterlaat om te gaan jag en verskuif hulle gereeld na nuwe skuilplekke vir hulle veiligheid.

Sodra die welpies groot genoeg is om te jag, sal die ma die mannetjies verdryf. Wyfies bly by die ma tot hulle seksueel volwasse is. Daarna sal sy hulle verdryf sodat hulle hul eie gebiede kan vestig.

’n Volwasse tierboskat, Leptailurus serval, se skouerhoogte is 54-62 cm en hulle is 67-100 cm lank met ’n stert van ongeveer 30 cm. Hulle weeg tussen agt en 18 kg en die wyfies is bietjie ligter as die mannetjies.


Die goed gekamoefleerde tierboskat

Die tierboskat is slank en langbenig. Sy rug, sye en stert is geelbruin, met swart strepe langs die ruggraat en swart kolle op die sye en stert. Hy het ’n kleinerige kop met witterige ken, kolle en strepe op die wange en voorkop en sy oë is bruinerig of groen. Sy ore is groot en ovaalvormig – swart aan die agterkant met ’n horisontale wit streep in die middel. Drie tot vier swart strepe loop van sy agterkop na sy skouers toe en hy is wit aan die onderkant.

Tierboskatte is roofdiere wat grootliks knaagdiere vreet, maar sal ook kleiner voëls, hase, paddas, insekte en reptiele vreet, sowel as gras om hulle spysvertering aan te help. Tot 90% van hulle prooi weeg minder as 200 gram, maar hulle sal soms groter prooi soos duikers en jong bokkies vreet.

Dié katte kan ’n paar verskillende geluide maak, soos spin, miaau, grom, brom, spoeg en ’n fluitagtige roep.

 

© 2024 Die/The Bronberger