Roekelose rituele bedreig reservate Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 21 April 2023 11:10
Untitled Document

Openbare natuurreservate in die Bronberg-gebied ly groot skade weens seremonies waar kerse in die veld gebrand word.

Vriende van Moreletakloof-natuurreservaat berig dat daar in Maart ’n hele paar sulke seremonies wederregtelik gehou is. “Dit is ’n ernstige bedreiging vir alle reservate en kan nie toegelaat word nie.”


Skade by Faerie Glen-natuurreservaat in 2021
Foto’s: Verskaf

Die Vriende sê dat hulle op groepe mense afgekom het wat in die veld sit en kerse brand. Geen godsdienstige byeenkomste word in die reservate toegelaat nie en besoekers word gevra om sulke seremonies by die hekwagte aan te meld en, indien moontlik, foto’s daarvan te neem.

“Daar is meer as 120 bokke, volstruise, baie stappers en kinders en ons moet elke keer die brandweer uitkry om die veldbrande te blus wat deur kerse veroorsaak word,” sê die Vriende.

“Almal se lewens word in gevaar gestel. Waarheen moet die diere gaan? Ons moet die palissade-heining knip wanneer daar ’n brand is en dan hardloop die wilde diere oor paaie in die voorstede in.”


Een van die uitgebrande kerse by Moreletakloof-natuurreservaat

Moreletakloof is nie die enigste reservaat waar dié soort seremonies gehou word nie. In Desember 2021 het ons berig dat verskeie bome op die oewer van die Moreletaspruit in die Faerie Glen-natuurreservaat tot as verbrand het. Vriende van dié reservaat het berig dat die brand die gevolg was van ’n ritueel wat roekeloos naby droë plantegroei uitgevoer is. Die skuldige is gevang en deur Stad Tshwane uit die reservaat verban.

 

© 2024 Die/The Bronberger