Die waaierstert wat ’n skadu werp Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 16 March 2023 10:52
Untitled Document

Hy bly in ’n gat in die grond en staan kiertsregop om sy gebied te bespied. Geen wonder die boere het hom ’n waaierstertmeerkat genoem nie. Tog is dié ou, wat met boomklim min te doen het, ’n eekhoring.

Die grondeekhoring, Xerus inauris, kom gewoonlik in die droër dele van die land voor, alhoewel foto’s van hom gereeld in Gautengse wildtuine geneem word. Hy is een van die ses eekhoringspesies wat inheems in Suidelike-Afrika is. Daar is 250 spesies wêreldwyd en hulle is knaagdiere in die familie, Sciuridae – van die Griekse woord ‘skia’, wat ‘skaduwee’ beteken, en ‘oura’, wat ‘stert’ beteken.

Dié familienaam, ‘die stert wat ’n skaduwee werp’, is veral van toepassing op die grondeekhoring, wat behoorlik lyk of hy ’n ingeboude sambreel het om homself mee koel te hou.


Grondeekhorings het reuse waaiersterte
Foto’s: Wikipedia

Anders as boomeekhorings oorwinter hulle nie en gaar ook nie kos op nie. Hulle vreet nou en dan termiete, maar meestal plante, gras, vrugte, struike en wortels en bolle wat met kloue en voortande uitgegrawe word en, tipies knaagdier, met skerp snytande gekerf word. Die meeste bronne sê dat dié outjie glad nie water hoef te drink as hy genoeg wortels en bolle vreet nie.

Grondeekhorings grou gate in die grond, wat gemiddeld 700 vierkante meter beslaan en twee tot 100 ingange kan hê. Dié gate word gereeld later deur stokstertmeerkatte en witkwasmuishonde gebruik.

Wanneer hulle bedreig word, sal grondeekhorings saamstaan en die roofdier met hulle waaiersterte omhoog stormloop. Hulle staan ook soos een man terug as die roofdier reageer. Die kenners sê dat verskeie opeenvolgende stormlope gewoonlik tot gevolg het dat die roofdier die aftog blaas.


’n Mannetjie grondeekhoring

Grondeekhorings maak verskeie geluide en het ’n alarm-roep vir gevaar. Daar is twee fluitagtige geluide: Die korter skril roep wys op ernstige gevaar en die medium-roep is vir minder ernstige gevaar.

Die mannetjies bly apart en kom net by die wyfies as dié op hitte is. Hulle leef in ouderdom-gebaseerde liniêre hiërargieë van sowat 19 mannetjies. Kompetisie tussen mannetjies neem gewoonlik die vorm van spring-tentoonstellings wat geen beserings veroorsaak nie. Dié groepe is nie gebiedgebonde nie en lede kom en gaan.

Wyfies bly gewoonlik in ’n gebied van omtrent vier hektaar in groepe van twee tot drie volwasse wyfies, nege onvolwassenes van albei geslagte en die wyfies se afhanklike kleintjies. Groepe met meer as drie wyfies verdeel in kleiner groepe. In die vroulike groep is daar nie ’n dominansie hiërargie nie.


Die regop-staan gewoonte laat grondeekhorings na meerkatte en muishonde lyk

’n Wyfie kry een tot drie kleintjies wat hulpeloos en kaal gebore word. Dié kleintjies word deur verskeie wyfies versorg en kindgrootmaak blyk ’n sosiale plig te wees.

Volwasse grondeekhorings het ’n gemiddelde lengte van 45 cm, met die mannetjies effens langer (424–476 mm) en swaarder (423–649 gram) as die wyfies (435–446 mm lank en 444–600 gram swaar). Hulle is kaneelkleurig aan die bokant met ’n laterale wit streep aan weerskante van die lyf en ’n wit pens. Die kenmerkende bosagtige waaierstert het swart hare met wit punte. Die pels is grof met ’n sagte onderpels.

Grondeekhorings kan tot 15 jaar oud word.

 

© 2024 Die/The Bronberger