Blinde ontwikkeling bedreig gouemol Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 17 February 2023 11:07
Untitled Document

Mense wat naby aan die Bronberg woon, kan gerus oorweeg om ’n gouemol-studie te laat doen. Dié mol is nou nommer agt op die lys van mees bedreigde dierespesies in Suid-Afrika.

Só het Teropo, ’n gevestigde stad- en streeksbeplanning firma in die Bronberg-gebied, onlangs aangekondig.

Die Bronberg is een van net drie plekke in die wêreld waar die Juliana-gouemol, Neamblysomus julianae, voorkom. Die ander twee plekke is by Nylsvley-natuurreservaat tussen Modimolle (Nylstroom) en Mokopane (Potgietersrus) en in die Pretoriuskop-omgewing van die Krugerwildtuin.

Volgens die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) se rooilys van bedreigde spesies word die Juliana-gouemolle op die Bronbergrif as ’n duidelike sub-populasie beskou wat krities bedreig word deur intensiewe verstedeliking en mynbou bedrywighede.


’n Juliana-gouemol wat Tracy Wolff op haar Shere-hoewe gekry het
Foto: Tracy Wolff

Dié molle is enkellopers, maar kom in kolonies voor met ’n netwerk van vlak tonnels in diep sand. Ontwikkeling aan die sanderige noordelike hange van die Bronberg het dié kolonies goue molle van mekaar afgesny; ’n feit wat inteling ’n bedreiging vir geïsoleerde kolonies maak.

Die 10 cm lange Juliana-gouemol se tonnels loop parallel met die grondoppervlakte en kan as riffies op die grond gesien word. Hulle stoot nie hope grond op die oppervlakte uit soos molrotte nie.

Anders as molrotte is die gouemol nie ’n herbivoor nie, maar eet slegs insekte. Hy is letterlik so blind soos ’n mol, het geen eksterne oë nie, en maak staat op sy reuksintuig om hom van punt A tot B te kry.

 

© 2024 Die/The Bronberger