Bedreigde brulpaddas beland onder wiele Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 20 February 2008 02:00
Untitled Document

Twee-en-dertig brulpaddas is einde Januarie op een Pienaarspoort- plot getel. Dié plot is naby aan die sandgate waar motorfietsryers gereeld verwoesting saai. Inwoners sê dat hulle al verskeie brulpaddas gesien het wat daar doodgery is.

Die reuse brulpadda, Pyxicephalus adspersus, is die enigste van die 125 paddaspesies in ons land wat op die rooidatalys is. Pienaarspoort-inwoners is ou dringend op soek na hulp om dié bedreigde spesie te beskerm teen motorfietsryers wat wederregtelik by die sandgate gaan ry.

‘n Mens sien dié brulpaddas net een of twee keer per jaar en dit net as dit goed gereën het. Dit is ook net in die reënseisoen wat ’n mens die mannetjie se brul sal hoor wat hom sy naam gegee het.‘n Brulpadda sal net brul as hy klaar sy gebied afgebaken het en dan moet ’n mens op jou pasoppens wees. Dié paddas is baie aggressief, veral in paringstyd, en skroom nie om indringers – hetsy mens of dier – aan te val nie. Dit doen hy deur dreigend op jou af te spring en, as jy nie vinnig genoeg padgee nie, sy skerp tande in jou in te slaan.

Die reuse brulpadda kan tot twee kilogram weeg. Anders as die meeste ander paddas is brulpaddamannetjies groter as die wyfies. Die mannetjie kan tot 24 cm lank word en die wyfie tot 12 cm. Hul velkleur is ’n dowwe groen – die mannetjies het ’n geel keel en die wyfies se keel is roomkleurig. Kleintjies is helder groen met ’n geel streep teen die rug af. Die streep verdwyn geleidelik as hulle volwassenheid bereik na omtrent’n jaar en half tot twee jaar.

Anders as ander paddas is die reuse brulpadda se tone baie minder geweb. Hy het baie sterk agterbene wat maak dat hy gate in die grond kan grou om te oorleef in die droë seisoene.


Reuse brulpaddas op ?n Pienaarspoort-plot in die poele water wat
Januarie se groot reëns agtergelaat het.
Foto: Annemarie

 

© 2024 Die/The Bronberger