Hy moet baie water drink Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 15 October 2009 23:57
Untitled Document

Dié voëltjie het sy Engelse naam, ‘common waxbill’, gekry omdat sy bloedrooi bek en die rooi streep oor sy oë mense herinner het aan die rooi was waarmee pakkies verseël word. Die rooibeksysie, Estrilda astrild, is een van 17 sub-spesies wat hoofsaaklik in sub-Sahara Afrika voorkom.

Sy gebied is egter besig om vinnig uit te brei. Oorsese broeikolonies wat in hokke aangehou is en ontsnap het, pas baie goed aan en word nou gevind op baie eilande rondom Afrika, van St Helena tot Mauritius, Réunion en die Seychelles. In Europa het die rooibeksysie versprei na Portugal en Spanje. Rondom die Amerikaanse kontinente kom hulle voor op plekke soos Trinidad, Brasilië en Bermuda. Hulle kom ook voor op baie eilande in die Stille Oseaan soos Tahiti en die Hawai-eilande.


Rooibeksysie
Foto: Wikipedia

Die rooibeksysie is ’n klein, bruinerige vink wat 11-13 cm lank is met ’n vlerkspan van 12-14 cm en ’n gewig van 7-10 gram. Hy het ’n skraal lyf met ’n lang stert en ’n klein rooierige vlek op die pens. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes is valer as volwassenes en het ’n swart snawel.

Hulle bly in groepe in lang gras in klam gebiede langs riviere en in rietstande. Dié sysies moet gereeld water drink omdat die saad wat hul hoofsaaklik vreet, min water bevat. Hulle sal ook insekte in die broeiseisoen vreet wanneer hulle meer proteïene nodig het.

Rooibeksysies voer gewoonlik deur aan lang grashalms of blomstamme vas te klou, maar sal ook op die grond na sade soek wat geval het.

Die nessie is ’n groot bal van deurmekaar geweefde grasstamme met ’n ingangstonnel wat afwaarts wys aan die een kant. Dit word in ’n holte gebou, gewoonlik laag af tussen digte plantegroei. ’n Baie basiese nes word partykeer bokant dié nessie gebou waarin die mannetjie slaap.

Vier tot sewe wit eiers word gelê wat binne 11-13 dae uitbroei. Die kuikens is gereed om te vlieg na 17- 21 dae. Beide ouers maak beurte om die eiers uit te broei en die kuikens te voer. Rooisysies kan dwarsdeur die jaar broei, maar broei hoofsaaklik van Augustus tot Desember.

 

© 2024 Die/The Bronberger