Nog ‘n ietermagog uit strate gered Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 September 2022 09:39
Untitled Document

George is die naam van ’n jong Temminckse ietermagog wat verdwaas in Pretoria se strate rondgedwaal het. Sy redders meen dat hy waarskynlik uit stropers se kloue ontsnap het.

Die Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild het op 24 Augustus berig dat iemand dié jong ietermagog gevind het en hom na ’n nabygeleë natuurreservaat geneem het, wat die hospitaal toe gebel het.


George by ’n miershoop

Die perseel waar dié erg bedreigde spesie behandel word, is nie deel van die algemene Johannesburgse Veeartseny Hospitaal vir Wild nie en die ligging word geheim gehou vir die diere en mense se veiligheid.

Dié diertjies is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm. Daar is ’n oorweldigende groot mark vir ietermagog-skubbe in Asië, veral in Sjina, omdat daar geglo word dat die skubbe medisinale waarde het.

Klein George is nog relatief jonk en sou in die natuur nou eers begin het met die geleidelike proses om die omgewing sonder sy ma te verken. Hy was ondergewig en gedehidreer toe hy gered is. ’n Ietermagog vreet slegs miere en termiete.


George word met die rehidrasie vloeistof behandel
Foto’s: Lauren Beckley en Lisa Tashley

Die hospitaal gebruik ’n rehidrasie vloeistof, wat deur die bek ingeneem word, om ’n ietermagog se lyf kans te gee om weer aan kos gewoond te raak, ná hy vir ’n lang ruk honger gely het. Oralade South Africa skenk die produk aan die pasiënte.

Teen die Bronnie se saktyd is George nog nie gesond verklaar nie. Hy is vir ’n groot abses op sy stert behandel en hy moes byvoeding kry om sy gewig stadig te laat optel na ’n meer aanvaarbare vlak.

 

© 2024 Die/The Bronberger