Koei-kolostrum red kameelperdkalfie Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 20 August 2022 05:18
Untitled Document

Kolostrum van ’n beesplaas naby Cullinan, waar ’n koei pas gekalf het, het waarskynlik die deurslag gegee vir ’n kameelperdkalfie van net ’n paar dae oud, se oorlewing. Dié kalfie is op 6 Augustus by die Silkaatsnek-reservaat by Hartbeespoort gered.

Perderuiters by die Harties Horse Trail Safaris het Marvin in die veld gekry. Hulle het vir Danelle en Brendan Murray van die Owl Rescue Centre in Hartbeespoort ontbied. Danelle sê dat Marvin se suigrefleks nog nie heeltemal ontwikkel was nie en dat sy naelstring nog aan was. Daar word bespiegel dat sy ma hom verwerp het toe hy vroeggebore is.

Danelle en Brendan het met die kalfie agter op hulle bakkie na veeartse in Johannesburg gejaag, waar hy gestabiliseer is. Hy is daarna na die Onderstepoort-dierehospitaal oorgeplaas.


Danelle Murray by klein Marvin
Foto: Verskaf

Die kalfie, wat Marvin gedoop is, is teen Die Bronberger se saktyd steeds by Onderstepoort behandel. Hy word met ’n mengsel van melk en rou eiers deur ’n voedingsbuis in sy maag gevoer. Hy suig nog so sleg dat die melk dalk in sy longe kan beland as hy met ’n bottel gevoer word.

Dit gaan glo ’n lang proses wees om Marvin weer in die natuur vry te laat, omdat kameelperdkalfies tot op tweejarige ouderdom aan die ma drink. Die plan is om saam met ander sentrums te werk om te kyk of Marvin dalk saam met ander klein kameelperdjies grootgemaak kan word, sodat hulle van mekaar kan leer.

 

© 2024 Die/The Bronberger