Inwoners in rep en roer oor Woodhill se kolganse Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 20 June 2022 08:15
Untitled Document

Inwoners van Woodhill is in rep en roer oor die planne om die kolganse van dié gholflandgoed uit te dun. ’n Groep wat dié uitdunning teëstaan het ’n Facebook-blad, ‘Protect the Geese of Woodhill’ gestig en bykans duisend mense sover het met die Facebook-duim aangedui dat hulle die groep ondersteun.

Die groep is onder leierskap van Arnold Steynberg gestig en volgens hom is die doel daarvan om alternatiewe planne uit te werk om die kolganse dalk eerder in ’n natuurreservaat te hervestig.


Woodhill se kolganse
Foto: Carli Koch

Volgens ’n verklaring van die Woodhill Huiseienaarsvereniging is en was die plan nooit om die kolganse heeltemal uit te roei nie. Die vereniging ondersoek alternatiewe, minder aggressiewe maniere om die oorbevolking van die kolganse te beheer.

Volgens die verklaring is dit belangrik om die impak van dié spesie op die omgewing en ander voëlspesies te verstaan. Die vereniging sê dat hulle nie op ’n wrede manier sal optree nie en die besluit om die oorbevolking te beheer, sal altyd volgens streng protokol voorskrifte en binne die voorskrifte van die wet gebeur.


Die damme op Woodhill se gholfbaan
Foto: Woodhill

Dié landgoed het in die verlede aansoek gedoen vir ’n amptelike permit van die departement van omgewingsake om die getalle van die voëls onder beheer te hou, maar die permit het verval en die hernuwingsproses is weens Covid-19 vertraag. In die verlede is 15 kolganse binne ’n week glo uitgedun.

’n Klag is by die Dierebeskermingsvereniging se nasionale raad gemaak en aangestuur na die Tshwane DBV.

 

© 2024 Die/The Bronberger