Nieshout is peste se moses Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 14 April 2022 09:50
Untitled Document

Houtwerkers wat aan dié boom saag of skuur, weet presies waar die nieshout sy naam kry. ’n Hoogs irriterende, peperagtige reuk word afgegee, wat mense wild aan die nies sit.

Nieshoutbome is vroeër as heiningpale en dwarslêers gebruik en die kleiner bome is vir hutkonstruksie gebruik omdat dié boom se hout termietbestand is. Die hout is oor die algemeen insekwerend en stukkies hout word in klerekaste gesit om allerhande soorte motte die skrik op die lyf te jaag. Verpoeierde bas word in water gemeng om vee teen bosluise te behandel.


’n Nieshout
Foto’s: Wikipedia

Selfs die hars kan as insekdoder gebruik word en die rook van brandende hout is tradisioneel as plaagdoder gebruik by graan wat gestoor word. Hulle sê dat die nieshout soos paraffien brand en ’n baie warm vuur tot gevolg het. Groot hoeveelhede van dié boom is vroeër jare as vuurmaakhout gebruik, wat die nieshout vandag ’n redelike skaars boom maak.

Die boom se bas is as snuif gebruik om hoofpyne te behandel en die hars van warm hout is aan vratte gesmeer. Aftreksels van bas en hout word gebruik om rumatiek en hartprobleme te behandel en ’n tee, wat van die boom se takkies gemaak word, is glo net die ding vir blaasprobleme.


Manlike blomme

Die nieshout, Ptaeroxylon obliquum, kan in woude ’n groot boom word, maar hy bly kleinerig in struikwoude, bosveld, klowe of heuwelstreke. Hy het donkergroen saamgestelde blare wat ’n kompakte kroon vorm. Die blare is ewe geveer en teenoorstaande met ’n effens gevleuelde ragis.

Die boom is halfbladwisselend en vertoon mooi herfskleure. Die bas is aanvanklik ’n ligte geelbruin wat donkerbruin word, maar bars namate dit groei en onthul dan die liggeel bas in die groewe.

Manlike en vroulike blomme word aan verskillende bome gedra en as jy dié boom se saad wil ontkiem, het jy albei geslagte nodig. Sy geel blommetjies het ’n soet geur en lok ’n wye verskeidenheid skoenlappers. Die vrug is ’n plat kapsule wat in twee kleppe oopbars wanneer die sade vrygestel word.


’n Liggeel bas word in die groewe onthul

Versamel die saad net voor die kapsule oopbars en saai dit in ’n 1:1 mengsel van riviersand en kompos. Bedek met ’n dun lagie sand. Jy kan die saailinge oorplant as hulle die drie-blaar fase bereik. Bome wat in die tuin oorgeplant word moet aanvanklik baie water kry.

Die nieshout is matig rypbestand en droogtebestand, alhoewel hy beter groei as hy meer water kry. Hy groei teen ’n middelmatige tempo (0,4 tot een meter per jaar) en het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie, wat hom ideaal vir ’n kleiner tuin maak.

 

© 2024 Die/The Bronberger