Suurwater maak 58 km rivierloop binne ’n dag ‘dood’ Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 18 March 2022 13:50
Untitled Document

’n Reuse ekologiese ramp in die Wilgerivier se nagevolge kan tot 20 jaar lank duur. Afloopwater van ’n ou ongerehabiliteerde steenkoolmyn het dié rivier se ekologie oor bykans 58 km binne een dag uitgewis.

Natuurbewaring moes bykans drie ton dooie vis uit die rivier verwyder en boere kon nie hulle lande besproei nie, omdat hulle vrees dat mense siek sal word as hulle die produkte eet.

Die groot vraag op Cullinan- en Rayton-inwoners se lippe was of hulle drinkwater ook vergiftig is. Die Wilgerivier loop in die Wilgedam, of Premiermyndam, en van daar word water na die Cullinan-suiweringsaanleg gepomp wat die water berg, suiwer en dié dorp en omgewing van kraanwater voorsien.


Natuurbewaring het sowat drie ton dooie vis uit die rivier verwyder
Foto: Verskaf

Drinkwater
Cullinan Diamantmyn besit die eiendom waarop die Wilgedam is, wat Magalies Water met die rou water voorsien, wat dan deur die waterwerke gesuiwer en verder versprei word. Gert Klopper, woordvoerder vir Petra Diamonds, het aan Die Bronberger gesê dat die besoedeling verder in die Wilgerivier af is as die myn se dam, wat beteken dat die besoedelde water nooit in die dam beland het nie.


Daar is 23 inheemse visspesies wat gevrek het
Foto: Verskaf

“Die Wilgedam is nie deur die besoedeling geraak nie, behalwe dat die sluise daarvan ook oopgemaak is om te help met die verdunning van die suurwater. Die dam se vlakke en kapasiteit is steeds meer as voldoende om Cullinan en Rayton van water te kan voorsien,” het Gert gesê.

Sluise in die Bronkhorstspruitdam, asook die Witbankdam, is oopgemaak om die hoë konsentrasie suurwater te verdun in ’n poging om die fiasko met die suurwaterbesoedeling te verlig.


Só lyk die suurwater
Foto: Verskaf

Suiwering
David Magae, woordvoerder vir Magalies Water, het aan Die Bronberger gesê dat Magalies Water die waterkwaliteit kontroleer wat vanaf die suiweringsaanleg na Stad Tshwane versprei word om seker te maak dat dit veilig is vir menslike gebruik en dat dit die vereiste Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard (SANS) vir drinkwater handhaaf.

David het Die Bronberger voorsien van ’n opsomming van die Cullinan-suiweringsaanleg se nakoming van SANS 241:2015 vanaf Julie 2021 tot die hede. Die uitslae wys dat die water by dié standaarde hou en geskik is vir menslike gebruik.

Die ramp beïnvloed Bronkhorstspruit se water glo ook nie, omdat dit verder rivier-af plaasgevind het. Andre Hoffman, rivierkundige by Mpumalanga Toerisme en Parke Agentskap, sê dat sowat
1,7 km by die inloop van die Loskopdam geraak is, maar dat die besoedeling agt kilometer rivierlangs van die bewaringskabel in die dam gestop het. Die kabel is die verste grens tot waar lede van die publiek met hulle bote mag vaar.


Die Wilgespruit se water het ’n vreemde kleur gehad
Foto: Verskaf

Vrektes
Mense het van die ramp bewus geword toe visvrektes op 16 Februarie by ’n verblyfplek aan die Wilgerivier aan Cara Stokes, voorsitter van die Bronkhorstspruit Opvanggebied Forum, gerapporteer is.

Sy het uitgevind dat die water se pH balans 3.99 is en dat die suurstofvlak 45% is. Die pH van suiwer water is 7, maar oppervlakwater se pH strek van 6.5 tot 8.5. Water met ’n pH van minder as 6.5 is suur en kan metaal ione bevat, soos koper, yster, lood, mangaan en sink. Die lae pH kan metaalpype en toebehore beskadig. Suurwater met ’n pH laer as 6.5 is ook meer geneig om besmet te word met besoedelingstowwe, wat dit nie veilig maak om te drink nie.


Die Wilgedam word met die rooi merker aangedui. Water word van dié dam na Magalies Water op Cullinan, links bo op die kaart, gepomp
Foto: Google Maps

Boere langs die rivier het daardie week gesien hoe die Wilgerivier eers potblou word, toe rooi, toe groen en toe geel. Die meeste boere in dié gebied is deel van die Gouwsberg-besproeiingskema en verbou gewasse soos mielies, groenboontjies, patats, lusern, suikerbone, sojabone en selfs uitvoerkersies. In dié vallei is daar ook verskeie beesboerderye, wildreservate en vakansieplase.


Die Wilgedam of Premiermyndam van naderby
Foto: Google Maps

Helikopter
Cara het berig dat inwoners van dié gebied ’n helikopter gekry het om te probeer uitvind of hulle die bron van die probleem kon kry. Die Wilgerivier se oorsprong is ongeveer 15 km wes-noordwes van Leandra. Die rivier vloei algemeen noordwaarts en sy hooftak, die Bronkhorstspruit, sluit ongeveer 25 km van die dorp Bronkhorstspruit by hom aan. Die rivier vloei daarna noordoos en sluit by die Olifantsrivier aan.

Die helikopter-vlug het gewys dat dit lyk asof die oorsprong van die probleem in die Kromdraaispruit lê, wat in die Saalboomspruit en die Wilgerivier vloei. Daar is uitgevind dat die bron van die besoedeling by die Kromdraai-myn is. Thungela Resources het dié myn onlangs by Anglo Coal oorgeneem. Mpumi Sithole, woordvoerder vir Thungela Resources, het gesê dat ’n klep by een van die myn se putte, waar besoedelde water opgegaar word, gebreek het. Dit is glo hoe die mynwater in die rivierstelsel beland het.


Die meter wys dat die pH 3.99 is
Foto: Cara Stokes

Dood
Die uiteinde was dat 27 km van die Wilgerivier en 31 km van die Olifantsrivier, 58 km altesame, “dood” is weens die suurwaterbesoedeling. Drie-en-twintig inheemse visspesies het gevrek en selfs ’n paling en ’n reuse geelvis van oor die drie kilogram, is tussen die dooie vis gekry.

Natuurbewaring het die drie ton dooie vis uit die rivier verwyder om verdere skade wat deur die verrotting van visse veroorsaak word, te verhoed. Volgens Andre Hoffman is die vis wat gevrek het nie giftig nie. Hulle het gevrek omdat die suur hulle kieue beskadig het en hulle dan nie suurstof uit die water kon opneem nie. Hy het gesê dat die groot probleem sou kom as die massas dooie vis begin vrot en dan deur waterdiere soos krokodille en likkewane gevreet word.

Volgens Andre word daar in die middel van Maart met die opstel van ’n rehabilitasieplan begin. Die plan sal in werking tree as riviervlakke laag genoeg gedaal het en daar word voorsien dat rehabilitasie van dié gedeelte van die rivierloop tussen 15 en 20 jaar gaan neem.

 

© 2024 Die/The Bronberger