Bronkhorstbaai beveg indringer met galvlieë Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 August 2021 10:31
Untitled Document

Bronkhorstbaai-inwoners en die Bronkhorstspruit-opvanggebied forum het onlangs saam met die departement van bosbou, visserye en omgewing se sentrum vir biologiese beheer, galvlieë vrygelaat om hulle swartwattel-probleem onder beheer te bring.


Galle word gevorm
Foto: Cara Stokes

Dié klein vliegie, Dasineura rubiformis, bied ’n groot oplossing in die beheer van een van ons gebied se hardnekkigste indringerplante. Swartwattel, Acacia mearnsii, word deur die galvlieg, wat soos die boom inheems is aan Australië en Tasmanië, beveg.

Die volwasse insek is slegs 2 mm lank, vreet glad nie en leef slegs vyf dae laat in die lente. Die wyfies lê hulle eiers binne-in die swartwattel se oop blomtrosse, waar die larwes dan uitbroei en die blommetjies vreet, wat veroorsaak dat die blomstempels galle (galweefsel) rondom die larwes vorm en nie saadpeule kan vorm nie.


Die galvlieg
Foto: invasives.org.za

Die irritasie beskadig nie die res van die boom nie, wat beteken dat die ekonomiese voordele van die boom behoue bly, terwyl hy nie meer ’n gebied oorneem nie. Die afname in saad veroorsaak nie dadelik die boom se uitwissing nie, maar dit beperk dié indringer se verspreiding. Swartwattel is een van Suid-Afrika se oorvloedigste indringers en het negatiewe impakte op biodiversiteit, landbou en waterbronne.


Die swartwattel se geel blomme verskyn van Augustus tot November
Foto: Cara Stokes

Die swartwattel word grootliks gebruik om leer te looi, vir houtskaafsels en vuurmaakhout. Dié boom kan tot 15 meter hoog word en is doringloos met varingagtige, neerhangende takke. Die blare is saamgestel en dubbelveervormig met baie klein blaartjies. Die blomhofies is liggeel en verskyn van Augustus tot November in saamgestelde trosse. Die sade is peulvormig en afgeplat.

 

© 2024 Die/The Bronberger