Loop maar lig vir Tierpoort se laaste tier Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 September 2009 16:13
Untitled Document

Tierpoort se laaste ‘tier’ is nog springlewendig en woon in die ou sandgate langs Lynnwoodweg, naby die Nkwe-oord uitdraaipad. Só sê inwoners wat dié luiperd al in ’n donker nag op dié uitdraaipad raakgeloop het. Volgens Richard Wade, argeoloogsterrekundige van die Nkwe-rif

Sterrewag, is hy nie die enigste een wat dié luiperd al gesien het nie. Hy sê die luiperd woon in die uitgrawings op die plot wat so ’n paar jaar gelede behoort het aan Elzilda Becker, wat voorheen die eienaaruitgewer van ‘De Kat’ tydskrif was. Maar nee, sy het blykbaar nie die tydskrif na die tier vernoem nie.

Die uitgrawe van sand is dekades gelede op dié plot stopgesit en, volgens Richard, het dit vandag ’n redelike toegegroeide natuurgebied met baie skuiling geword. Hy sê dat ’n professor op ’n stadium uitgekom het na dié sandgate toe en foto’s geneem het van die spore wat gereeld daar gekry is. Hy het bevind dat die spore behoort aan ’n 80 kg luiperd mannetjie.

Richard het een aand, toe hy om die draai by die Nkwe uitdraaipad kom, amper teen die luiperd gebots. Hy sê dat die luiperd saam met ’n rooikat, wat hy ‘pink panther’ gedoop het, in die pad afgeloop het. Volgens hom is ‘pink panther’ se spore gereeld by die Nkwe-rif Sterrewag te sien.


Tierpoort se laaste luiperd is langs dié pad gesien

Richard vertel dat Tierpoort se laaste luiperd blykbaar onlangs ingeklim het onder Danie Schutte se swaer se bokke en skape. Hy sê dat selfs Michael Prinsloo se diere al deurgeloop het. Volgens Richard vreet dié luiperd veral graag honde.

Tierpoort is vandag ’n hoewegebied waar die meeste plotbewoners nie meer weet dat die naam Nkwe die Ndebele woord vir ‘tier’ is nie. Die mense wat die dae onthou toe dié ’n wilde wêreld was waar ‘tiere’ nog in die berg rondgeloop het, raak al hoe minder.

In April 2003 het Oom Francois Annandale vir ons die storie van Nkwe vertel. Die Annandale-familie bly nou al langer as 110 jaar in Tierpoort en is steeds in besit van die oorspronklike kaart en transport van die grond wat in 1895 uitgeskryf is.

Oom Francois het nie net oor ‘tiere’ gepraat nie, maar het ons ook vertel van die Ndebele legende oor die monster wat diep onder die water in Nkwe-oord se swemgat gebly het. Volgens hedendaagse afstammeling van dié Ndebeles skuil hy vandag nog in dié bykans bodemlose swemgat.

Oom Francois is ’n paar jaar na dié artikel oor hom in Die Bronberger verskyn het, oorlede. Ons wonder wat hy oor die lot van die laaste ‘tier’ sou sê.

 

© 2024 Die/The Bronberger