Ons het hom tradisioneel leer
ken as die Voortrekkers se
koffie-boom, maar in droë
gebiede van ons land word hy die
‘Boom van die Lewe’ genoem omdat
hy voeding bied aan mens en
dier. Of jy nou koffie, bier of pap wil
maak, kos wil geur of op soek is na
’n voedselbron hoog in proteïene en
vitamien A, is die witgat jou antwoord.
Ons praat nou van ’n boom, maar
waar hy dié gat-gedeelte van die
naam kry, wil niemand sê nie. Die
witgat, Boscia albitrunca, se genus is
vernoem na Louis Bosc, ’n Franse
landbou-professor wat deur die revolusie
geleef het van 1759 tot
1828. Die ‘albitrunca’ verwys na die
boom se wit stam.
Die witgat
Koffie
Die witgat se wortels is algemeen
gebruik as ’n plaasvervanger vir
koffie of sigorei. Dit word ook
gebruik om bier mee te maak, word
fyngemaal om pap van te maak en,
vreemd genoeg, om aambeie te
behandel. Wie weet, dalk is dit waar
die boom se naam vandaan kom.
Die blare is baie voedsaam en met
hul hoë proteïene en vitamien A
inhoud is dit ’n gunsteling onder
wild en beeste, alhoewel die mense
sê dat koeie se melk vreemd proe as
hulle van dié blare gevreet het. ’n
Aftreksel van die blare word gebruik
om ooginfeksies in beeste te behandel.
Daar word geglo dat jou oes ’n mislukking
sal wees as die witgat se
vrugte aan die boom verdor voor
die giersgras, ook bekend as mannagras,
ryp is. Nog ’n bygeloof is dat
die koeie slegs bulkalwers sal hê as
die witgat se hout gebrand word.
Kombuisgereedskap, soos lepels en
bakke, word van die hout gemaak.
Die groen vrugte word gebruik om
epilepsie te behandel en die ryp
vrugte word in tradisionele disse
ingewerk. Die bloeisels proe blykbaar
nes kappertjiesade en word
gebruik as geurmiddel.
Die witgat behoort aan die kappertjie
familie, Capparaceae, en is die
mees algemene lid van die nege
ander spesies in sy genus. Die bekende
ingelegde ‘capers’ word van
bloeisels van Europese lede van dié
familie gemaak.
Die witgat
se gelerige
blomme en
vrugte
Kroon
Dié is ’n klein tot medium-grootte
immergroen boom wat tot sewe
meter hoog kan word. Hy het ’n
aantreklike ronde kroon; die stam is
glad en ’n gryserige wit.
Die witgat blom van Julie tot November
en sy gelerige blomme het
’n sterk soet geur. Hulle is stervormig
en het geen blomblare nie.
Die trosse bessie-agtige vrugte is
rond, glad en word geel as hulle ryp
is. Elke vrug is ongeveer 15 mm in
omtrek en die vrugte is aan die
boom van Desember tot Maart.
Die witgat is gehard en droogtebestand.
Hy kan selfs ’n sekere mate
van ryp hanteer en is maklik om te
groei van saad, of stiggies van sy
wortels en takke. Sade moet van die
boom gepluk word as die vrugte ryp
is en dan in die koelte drooggemaak
word. Die vrugte wat op die grond
lê is gewoonlik vol parasiete.
Verwyder die vrugte se vlees van die
sade voor jy hulle plant.
Druk die saad in saailingbakke gevul
met riviersand en bedek met ’n dun
lagie sand. Die saad ontkiem binne
sewe tot 14 dae. Plant die saailinge
direk in oop grond. As hulle in
sakkies of potte geplant word, groei
hulle stadiger. Dié boom groei
gewoonlik vinnig in die eerste vyf
jaar. |