Dit is maklik om vas te stel of die
roofvoël wat jy nou net in die
lug sien sweef het ’n wou is of
nie. Kyk net of sy stert ’n v-vorm
maak. ’n Wou word van ander roofvoëls
onderskei deur sy kenmerkende
gevurkte stert.
Dit is dié stert wat hom toelaat om
baie akkurate duike uit te voer. Hy
kan afswiep en ’n stukkie prooi op
’n snelweg tussen bewegende voertuie
oppik. Dit alles deur die v-vormige
stert in vlug vanaf ’n horisontale
na ’n amper vertikale posisie te
beweeg.
Die geelbekwou is aanvanklik as ’n
aparte spesie gesien, maar word toe
later deur sommige voëlkenners as
’n sub-spesie van die swartwou
geklassifiseer. Afhangende van
waar hy ingedeel word, staan die
geelbekwou bekend as Milvus
milvus aegypticus of Milvus milvus
parasitus.
![](/images/stories/jun2009/onso4.jpg)
Die geelbekwou
Foto?s: Wikipedia
Onlangse DNA toetse laat dit nou
weer blyk asof die geelbekwou
genoeg van die swartwou verskil
om hom ’n aparte spesie te maak.
Alhoewel die twee ’n gemene voorsaat
het, is hulle so lank terug geografies
geskei dat individue blykbaar
nie meer met mekaar gekruis kan
word nie.
Die geelbekwou is omtrent so groot
soos ’n tarentaal, 51 – 60 cm lank.
Sy vlerkspan is 133 – 180 cm. Sy
vere is roesbruin met ’n ligter band
oor die boonste vlerk, en sy snawel
en bene is helder geel.
Die geslagte lyk eners, maar onvolwassenes
het ’n swart snawel en
dofgelerige veerrande.
Onvolwassenes kan onderskei word
van die swartwou deur hul dieper
gevurkte sterte.
Beide geelbek- en swartwou is
somerbesoekers, maar dit is net die
geelbekwou wat hier broei. Dié
twee se roep klink eners – ’n hoë,
skril runnikgeluid.
Die geelbekwou vreet soogdiere,
kleiner voëltjies, reptiele, insekte en
aas. Hulle aas veral langs paaie waar
insekte en diere doodgery word en
kan lastig raak in kampeerplekke.
![](/images/stories/jun2009/onso5.jpg)
Die geelbekwou met sy kenmerkende gevurkte stert
Broei
Die geelbekwou vlieg in swerms as
hulle nie broei nie. Hulle broei van
September tot November. Die nes is
’n holte van 50 – 80 cm diep,
bestaande uit takkies en is uitgelê
met ou lappe, wol, mis of velle.
So ’n nes word in ’n boom gebou en
twee tot vier eiers met bruin vlekke
op, word gelê. Die mannetjie en
wyfie neem beurte om op die nes te
sit tot omtrent ’n week ná die kuikens
uitgebroei het. Die kuikens vat
vyf weke om uit te broei en verlaat
die nes na ’n verdere ses weke.
|