Die Aussies gaan glad nie ingenome
wees as hulle hoor dat
ons ’n boom het wat stof in
die oë van hul wondermiddels skop
nie. Kenners meen dat ons kanferbos
’n kragtiger ontsmettingsaksie
as Australiese teeboomolie, Melaleuca
alternifolia, het.
Wie sou nou kon raai dat iets wat in
die volksmond bekend gestaan het
as boesmantabak, bekend vir ’n
narkotiese effek op die roker daarvan,
vandag gesog sou wees in die
kosmetiese bedryf?
Dié volksnaam het tot stand gekom
toe Kalahari-boere agterkom dat die
Boesmans kanferbosblare rook. Dié
blare bevat geen nikotien nie en
alhoewel dit ’n narkotiese effek het,
is dit nie verslawend nie. Vandag
kan ’n mens gedroogde boesmantabak
op bykans enige webwerf wat
tradisionele medisyne adverteer,
aankoop.
En waar daar ’n rokie is, is daar
iewers ’n vuurtjie. Kanferbos produkte
vat nou eers regtig vlam, al
word dit al vir eeue lank ingespan
om ’n groot verskeidenheid take te
verrig, van kosmeties tot die behandeling
van ernstige siektes.
Dit is eers die afgelope paar dekades
wat die kanferbos, Tarchonanthus
camphoratus, se essensiële
olies in laboratoriums verwerk word
om velprodukte te maak wat ’n strelende,
anti-irritasie en opklaringseffek
vir sensitiewe velle, dermatitis,
sonbrand en bedsere, het.
Tradisioneel is takkies kanferbos
gebruik as insekafwerende middel.
Dit is tussen klere, komberse en
selfs kos geplaas om bosluise,
vlooie, vlieë, luise en motte weg te
hou. Dié boom se sade, wat ’n sterk
kanfergeur afgee, is gebrand om
hutte te ontsmet. Vars blare en
takkies is bygevoeg om die vuur
meer te laat rook.
Die hout is termiet-bestand en is tradisioneel
gebruik om hutte en heinings
mee te maak. Die olie wat verkry
word as die sade gepars word,
hou muskiete, muggies en bykans
enige bytende insek weg. As dié olie
aan jou lyf gesmeer word, werk dit
vir ses tot tien ure - lank genoeg om
’n rustige nag te verseker.
![](/images/stories/jun2009/onso2.jpg)
Die vrugte met watte-agtige hare
Foto: plantzafrica
Kussing
Die Tswana en Venda stamme
gebruik die kanferbos se wollerige
sade om kussings mee op te stop.
Hulle glo dat dié kussings help vir
hoofpyn, slaaploosheid en rusteloosheid.
Ander stamme druk kanferblare
onder hul kussings vir ’n
rustige nag sonder nagmerries, en
ook om keelseer te behandel.
Baie stamme het vroeër sierkranse
van kanferbosblare op hul koppe
gedra. Die vars blare is in die hare
ingedruk om luise en skilfers weg te
hou. Die Masai het die kanferblare
as parfuum gebruik.
Om kanferrook in te asem is blykbaar
goed vir rumatiek en sommige
stamme hou hul seer gewrigte
binne-in dié rook. Die blare word
ook in ’n bad gegooi vir dieselfde
doeleindes.
Sekere stamme het geglo dat reisigers
na vreemde lande, kanferbosblare
moet kou om hulle te beskerm
teen bose invloede. Die Tswanas
druk kanferblare in hul hoede of
vleg ’n kransie om hul koppe om
krag op ’n lang reistog te verseker.
Hulle smeer ook hul voete met vars
kanferblare voor hul op reis gaan.
’n Strelende salf wat seer voete,
blase en koorssere behandel, is
gemaak van fyngeparste kanferblare
in vet gemeng.
Medisyne
Medisinale gebruike van die kanferbos
strek van behandelings vir geslagsiektes,
sooibrand, verteringsprobleme,
hoofpyne, hoes, verkoue
en griep. Baie stamme, en selfs die
Voortrekkers, het kanferbos gebruik
om asma, brongitis en ander borsaandoenings
te behandel.
’n Sterk aftreksel word in ’n warm
bad opgelos om verlamming en
serebrale bloeding te behandel. Die
kanferbos het ook sweetdrywende
eienskappe en word gebruik om
koors te behandel.
Boonop is dié boom se weerstand
teen veldbrande uitsonderlik. In
studies is daar gesien dat ’n kanferbos
selfs ná drie veldbrande oorleef.
Omdat hy droogtebestand is, kan hy
in droë dele, waar bykans niks
anders wil groei nie, geplant word.
Hy kan gebruik word om duine te
bewaar en om gronderosie deur
wind en water te beheer. Sy stadigontbindende
blare beteken dat hy
grondvrugbaarheid verhoog.
![](/images/stories/jun2009/onso3.jpg)
Boesmantwak
Foto: Psychoactive Herbs
Snoei
Die kanferbos word twee tot nege
meter hoog en word eintlik meer as
’n struik gesien. Met gereelde snoei
om slegs een hoofstam te vorm, kan
’n netjiese boompie gekweek word.
Hy dra roomwit blomme van Maart
tot Junie. Die vrugte, bedek met
wollerige, watte-agtige hare, word
gedra van Junie tot September.
Dit is nie maklik om die kanferbos
van saad af te groei nie; slegs 30-
40% van saailinge oorleef. Die boom
kan ook gegroei word van plantlote
wat met wortelstimulerende hormone
behandel moet word voor hul
geplant word. Die boom groei 600-
800 mm per jaar.
Familie Die kanferbos hoort in die daisyfamilie.
Tot onlangs is slegs twee
spesies kanferbos in suidelike Afrika
erken: Tarchonanthus camphoratus en T. trilobus. PPJ Herman van die
Nasionale Herbarium in Pretoria het
egter bevind dat daar verskeie spesies
onder Tarchonanthus camphoratus gegroepeer is en het hulle in
2002 herrangskik op grond van verskille
in blomme, blomtye, blaarvorm
en verspreiding. Nou word
daar vyf spesies onderskei: T. camphoratus,
T. littoralis, T. minor, T.
obovatus en T. parvicapitulatus.
Tarchonanthus, en T. trilobus word
verder onderskei in twee variëteite,
naamlik var. trilobus and var. alpinii.
|