Kleinperdepram is maagpyn se moses Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 18 May 2009 14:55
Untitled Document

As jy erge maagpyn het, moet jy maar hoop dat daar ’n kleinperdepram iewers naby jou groei. Blykbaar is die gegeurde tee wat van dié boom se blare gemaak word, die kontrei-medisyne wat jou maagpyn die vinnigste sal laat verdwyn.

Die blare het oliekliere aan die rante en gee ’n sterk sitrusagtige geur af. Eintlik ruik alle dele van die kleinperdepram kompleet nes sitrus. Dis hoekom die gekneusde sade tradisioneel as parfuum gebruik word.

Stokkies wat van die boom afgebreek word, word gebruik as tandeborsels, en ’n tandepasta en mondspoelmiddel, wat bakteriese groei verhoed en plaak verwyder, word ook van dié boom gemaak.

Kwale
Tradisioneel word die kleinperdepram ingespan om verskeie ander kwale te behandel Sy wortels en bas word gedroog en verpoeier en dan gebruik vir ’n seer keel, bloedvergiftiging en verwante siektes. Die verpoeierde wortels word ook gebruik om tandpyn te behandel. ’n Aftreksel gemaak van die wortels en blare word gebruik vir koors; die vrugte word gebruik vir koliek; en galsiekte in vee word behandel met ’n aftreksel van die bas.

In die Manzini-distrik van Swaziland word lighoofdigheid behandel deur vir twee dae lank die rook in te asem van dele van die kleinperdepram wat op ’n warm plaat gebrand word. Die boom is ook tradisioneel in KwaZulu-Natal ingespan om geslagsiektes soos sifilis, te behandel. Wetenskaplikes het onlangs agtergekom presies hoekom die kleinperdepram so ’n genesende effek het. Hy bevat verskeie biologies aktiewe bestanddele, insluitende pellitorine, ß-sitosterol, sitosterol-ß-D-glukoside en xanthoxylol dimethylallyl eter. Blykbaar beteken dit dat hy antibakteriese en anti-fungus eienskappe het.


Die kleinperdepram word ongeveer 15 meter hoog

Nefie
Die kleinperdepram, Zanthoxylum capense, val in ’n genus waar daar ongeveer 250 spesies voorkom. Dié bome word dwarsoor die wêreld gebruik vir medisinale doeleindes. ’n Oorsese nefie van die kleinperdepram, Zanthoxylum americanum, is tradisioneel deur die Noord-Amerikaanse Indiane ingespan teen tandpyn en is in 1894, danksy ’n dokter genaamd John Nash, as algemene medisyne begin gebruik om tifuskoors en cholera-epidemies te behandel.

Nog ’n nefie, Z. armatum, wat groei vanaf Kashmir tot suid-oos Asië, word ook gebruik om tande skoon te maak, tandpyn te behandel, en sy blare en sade word as geurmiddels in Sjina en Indië gebruik.

Knoppe
Die kleinperdepram word ongeveer 15 meter hoog en jy kan dié bladwisselende boom dwarsdeur die jaar uitken aan die kurkagtige knoppe op sy stam. Die boom is bedek met glansagtige blare en rooi vrugte in die somer. Baie voëlspesies word na die boom aangelok deur sy sade en die larwes van verskeie soorte skoenlappers vreet sy blare.

Die kleinperdepram het nie ’n aggressiewe wortelstelsel nie en is ’n aanwins vir enige tuin. As jy hom van saad af wil groei moet jy die vars sade laat week in soutsuur of swawelsuur en daarna oornag in warm water laat lê. Saai die sade in ’n 1:1 mengsel van riviersand en kompos en hou vogtig en in die skadu. Jy kan die saailinge in sakkies oorplant as hulle die twee-blaar stadium bereik.

Saailinge wat onder bome in die veld groei, kan maklik oorgeplant word en dis blykbaar baie makliker as om die boom van saad te probeer groei. Die boom groei 600 – 800 mm per jaar en is goed bestand teen droogte en ryp.


Jy kan die kleinperdepram uitken aan die kurkagtige knoppe op sy stam

 

© 2024 Die/The Bronberger