Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 15 January 2008 02:00
Untitled Document

Dit was ’n besonderse kappertjie- seisoen in die Bronberggebied se grasvelde. Die vroeë en aanhoudende reën het die Kleinfontein-omgewing in ’n pers wonderwêreld omskep.

Plantkenner Petro Lemmer van Pienaarspoort sê dat sy nog nooit in haar lewe so iets gesien het nie. Cleome maculata, wat geen volksnaam het nie, is redelik volop en groei gewoonlik op versteurde plekke soos ou landerye, maar nooit in so ’n skouspel nie.


Cleome maculata

Dié is ’n regop eenjarige kruid met byna haarlose stingels. Die blare is handvormig en saamgestel met drie tot vyf smal blaartjies wat haarloos is of met heel klein growwe haartjies.

Die blomme is onreëlmatig en die boonste twee kroonblare het in die middel ’n geel streep omlyn met pers. Die vrug is ’n smal kapsule wat 40-100 mm lank is.

Dié wydverspreide kappertjies kom in grasveld voor en is dikwels ’n onkruid op versteurde sanderige plekke.

Dié kappertjies kan ook in die Pretoria Nasionale Botaniese Tuin gesien word en ’n woordvoerder vir dié tuin vertel hoe belangrik blomme in ’n grasveldomgewing is. Heuwels en vleilande moet nie afgesonder word van graslande nie omdat dit alles integrale dele van die Bankeveld ekosisteem
vorm.

As grasveld afgesonder of verkeerd hanteer word, sal spesie diversiteit afneem – nie net van die plante nie maar van alle lewende wesens wat deel vorm van die netwerk in die grasland.

Met minder veldblomme sal daar minder insekte wees, wat dan minder voëls lok en so ook minder soogdiere. Die uiteinde is dat die grasland verval in ’n gebied met onaantreklike lang of stekelrige grasse.

 

© 2024 Die/The Bronberger