Hy swem soos ?n slang in die water Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 18 March 2009 08:04
Untitled Document

Genoeg mense het dié voël al in ’n vlietende oomblik vir ’n waterslang aangesien. Hy is een van die enigste watervoëls wat nie waterdig is nie en hy kan nie vlieg as hy klaar geswem het nie.

Ons praat van die slanghalsvoël. Hy het sy naam gekry omdat sy lyf heeltemal onder die water verdwyn wanneer hy swem tot net sy lang reieragtige nek en slanke kop uitsteek terwyl hy met slangagtige bewegings deur die water gly.

Anders as die meeste ander watervoëls is daar geen olie in sy vere nie en sukkel hy ’n bietjie om soos eende op die water te dryf. Dit beteken egter dat hy beter kan duik.


Die slanghalsvoël moet sy vere behoorlik laat droog word as hy klaar geduik het

En duik moet hy, omdat hy sy prooi onderwater deurboor met ’n spesiaal aangepaste verlengde snawel. Hy vreet meestal vis, maar ook ander waterdiere soos slange, paddas, slakke en skaaldiere.

Ná ’n duikepisode is sy vere so vol water dat hy nie juis kan vlieg nie. Daarom het slanghalsvoëls die gewoonte om met wyd oopgestrekte vlerke op ’n stomp in die water te sit en uitdroog. Dit help ook om hul liggaamstemperatuur weer warmer te kry.

Die slanghalsvoël, Anhinga rufa, is ongeveer 80 cm lank. Volwasse mannetjies in broeiverekleed het ’n rooibruin kop en nek met ’n lang wit streep van die oog tot op die nek.


Die slanghalsvoël deurboor prooi met sy lang, skerp snawel
Foto: Wikipedia

Wyfies en nie-broeiende mannetjies het ’n ligbruin gesig en keel. Die snawel is geel, die bene swart, rugvere grys met ligter strepe, en die oë geel.Die slanghalsvoël neem net een maat vir die res van sy lewe. Die nes is ’n platform van stokke en ander plantmateriaal en kan gebou word in die vurk van bome, tussen riete, op eilande of bo-oor water. Twee tot ses wit eiers word gelê.

Hulle bou neste in kolonies saam met ander soorte voëls soos ibisse, reiers en duikers. Slanghalsvoëls slaap snags in groepe van 10 tot 50, maar soek bedags alleen kos.

Jy sal die slanghalsvoël rondom varswaterdamme, mere en stadig bewegende strome kry, maar kan hulle ook partykeer sien by kusstrandmere en riviermondings.

 

© 2024 Die/The Bronberger