Hy wys waar heuningkoeke is Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 23 February 2009 21:59
Untitled Document

Dit is moeilik om die heuningwyser te ignoreer as hy besluit het jý is die een wat hy na ’n heuningkoek gaan begelei. In sy gedagtes sal geen intelligente mens mos ’n byekorf ontdek en dan bloot verby loop sonder om die heuning uit te haal nie.

Rasend van opgewondenheid dat dié tweevoetige soogdier sy bevele so getrou gevolg het, sal hy op ’n tak vir sy stukkie van die strooptog sit en wag. En behoede jou as jy nie die koek met hom deel nie. Die volkstrommel is vol van staaltjies waar heuningwysers jou volgende keer in die kake van ’n leeu inlei.


Onvolwasse grootheuningwyser
Foto: Nick Bray

Begelei
Die grootheuningwyser se Latynse naam, Indicator indicator, verwys juis na dié voëltjie se begeleidingstalent. Dit is sy helderwit buitestertvere wat ’n mens op sy swiepende spoor hou. En natuurlik die konstante skel gekwetter van sy gidsroep. Die res van die voëltjie se vere is maar valerig en onopvallend. Die mannetjie het ’n pienk snawel, swart keel, donker kroon en wit oorvlekke. Die wyfie is sonder die mannetjie se gesigskenmerke en het ’n swart snawel. Onvolwassenes het ’n geel skynsel op die onderste dele en ’n donkerbruin rug.

Hulle word ongeveer 20 cm lank en weeg omtrent 50 g. Die roep wat hul gebruik om hul gebied af te baken, weergalm gereeld in die Bronberg-gebied. Dit klink soos ‘Vik-torrr- Vik-torrr’.

Heuningwysers vreet nie net heuning nie, maar bykans alles in byneste; van die larwes tot waswurms en byewas. Hulle het die vermoë om, met die hulp van ensieme wat ’n ingewikkelde chemiese proses tot gevolg het, byewas af te breek. Die enigste ander voëls wat oor dié vermoë beskik is die speg, aan wie heuningwysers verwant is, en ’n paar soorte seevoëls.


Grootheuningwyser met ?n stuk heuningkoek
Foto: Nigel Denis

Parasiet
Die speg se nes is dan juis een van dié wat die grootheuningwyser parasiteer. Min mense weet dat heuningwysers broeiparasiete is en hul eiers in ’n gasheer se nes lê. Grootheuningwysers verkies gatneste soos die van spegte, houtkappers, glansspreeus, byevreters, kakelaars en selfs groter swaeltjies.

Drie tot sewe wit eiers word gelê, elkeen in ’n aparte nes van ’n ander spesie voël. Die kuiken broei uit met ’n soort haak aan die snawel wat hy, terwyl hy nog blind en sonder vere is, gebruik om die gasheer se kuikens dood te maak.

Al word dié kuikens deur ander voëls grootgemaak, weet hulle baie goed dat hulle heuningwysers is. Hulle assosieer met ander heuningwysers by byneste waar die onvolwassenes die volwassenes domineer. Dit is dan ook hoofsaaklike onvolwasse heuningwysers en wyfies wat mense en diere, soos ratels, na byneste lei. Die mannetjies vreet alleen in neste waar die bye uit is in die dag, of vroeg in die oggend terwyl die bye nog nie aktief is nie.

Die grootheuningwyser vreet ook ander vlieënde insekte en sal diere volg om te kyk watter insekte opgejaag word.

 

© 2024 Die/The Bronberger