Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 11 November 2008 07:42
Untitled Document

’n Mens hoor altyd hoeveel liters water uitheemse bome per dag drink. Die idee dat ’n inheemse boom ’n fontein van uitdroging kan red, val dan vreemd op die oor. Die saliehout is so ’n boom en sy reddingsaksie het te doen met sy wortelstelsel.

Die kenners sê dat ’n fontein wat besig is om op te droog dikwels gered kan word as die regte soort plante in en om die spons-gebied of die oog van die fontein geplant word. Saliehout is ideaal vir dié doel omdat sy fyn, maar aggressiewe wortelstelsel help om die fontein te stabiliseer. Sy wortels kan selfs in vloeiende water groei en hy is ook ’n waardevolle boom om walle rondom damme, strome, riviere en spruite te stabiliseer. Saliehout kom natuurlik in rotsagtige gebiede rondom dreineringslyne voor, veral dié wat permanente water bevat. Hy is volop rondom die strome en kuile van Nkwe Plesieroord se rotsagtige koppies.


Dié saliehout groei langs Nkwe se strome

Heining
Saliehout, Buddleja salviifolia, is ’n immergroen boom wat vier tot agt meter hoog word. As hy nie gesnoei word nie, bly hy ’n bos wat nooit hoog genoeg word om ’n boom genoem te word nie. Saliehout maak ’n pragtige heining met die trosse blomme waarvan die kleur wissel van witterig tot ligpers en selfs ’n diep, donker pers. Hy blom van Augustus tot Oktober.

Dié is een van die beste bome om ’n verskeidenheid insekspesies, en daarom insekvretende voëls, nader te lok. Ten minste 15 spesies skoenlappers besoek dié bome as hul blom. Die blomme het ’n redelike hoeveelheid stuifmeel en nektar, wat dit ’n gewilde boom onder byeboere maak.


Saliehout se blomkleur wissel van wit tot ligpers en selfs ?n diep, donker pers

Medisyne
Tradisioneel word ’n afkooksel van die wortels gebruik as doepa vir hoes en koliek. ’n Aftreksel van die blare word aangewend as oogspoelmiddel. Vars of gedroogde blare kan gekook word as ’n soort tee. Dit moet sonder melk, met ’n klein bietjie heuning by, gedrink word.

Die hout is hard, swaar en liggeel met ’n bruin hart en is tradisioneel gebruik om spiese en visstokke mee te maak.

Jy kan saliehout groei deur saad of snitte. Snitte werk vinniger en hardehout snitte kan geneem word in die aktiewe groeifase en moet behandel word met wortelstimulerende hormoonpoeier. Snitte moet geplant word in gewaste riviersand en klam gehou word vir drie tot vier weke. Snitte wat begin worteltjies maak kan in sakke geplant word in goed gedreineerde grond.

Jong plante moet vir ten minste die eerste seisoen teen ryp en wild, wat graag die blare en sagte jong takke vreet, beskerm word. Saliehout groei vinnig teen 600 – 800 mm per jaar. Volwasse saliehout is ryp- en droogtebestand en herstel gou ná veldbrande.

 

© 2024 Die/The Bronberger