Hy kom van ver af Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 16 October 2008 00:15
Untitled Document

Die bruinjakkalsvoël is waarskynlik die besoeker wat die verste vlieg om die somer in Suid-Afrika te kom deurbring. Voëls wat in Rusland geringmerk is, het al hier by ons aangekom na ’n migrasietog van meer as 12 000 km.

Dié voëls broei in Eurasia en migreer suidwaarts van Oktober tot April. Groot swerms van ongeveer 3 000 migrerende bruinjakkalsvoëls is al in die midde-Ooste opgemerk waar hulle skuiling soek teen donderstorms. Omdat hulle nie hier broei nie, word bruinjakkalsvoëls gewoonlik alleen aangetref, maar groot swerms kan rondom goeie voedselbronne vorm. Hulle vreet insekte, voëls, rotte en muise.

Dié voëls hou van oop wêreld en kom dikwels in landbougebiede voor. ’n Mens sien hulle waar hulle op telefoonpale langs paaie gereed sit om op prooi af te duik. Daar word gesê dat die bruinjakkalsvoël die beste van alle roofvoëls kan sien.


Bruinjakkalsvoël
.

Die bruinjakkalsvoël in vlug
Foto: UCT

Ou voëlkykboeke het die bruinjakkalsvoël Buteo buteo genoem. As hulle in die noordelike halfrond is, staan hulle bekend as Buteo buteo vulpinus, maar as hulle suide toe kom, word hulle deesdae in die meeste bronne Buteo vulpinus genoem.

Die bruinjakkalsvoël is 45-50 cm lank met ’n vlerkspan van 102-128 cm. Sy verekleed wissel van dofbruin tot byna swart met ligter bruin stertvere wat streeppatrone aan die onderkant het. Sy snawel is grys en sy bene geel.

Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes lyk soos die volwassenes, behalwe dat hulle ’n geel oog het in plaas van bruin en ’n smaller warsstrook aan die punt van die stert.

Dié voëls is monogaam, maar sal ’n ander maat vat as sy eie maat doodgaan. Hulle lê een tot drie wit eiers.

 

© 2024 Die/The Bronberger