Die mooiste, mooiste maand in die Bronberg Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 15 October 2008 23:45
Untitled Document

Ons vier die mooiste, mooiste maand in die Bronberg deur vir lesers die blomme, voël, rotsformasie, uitsig, watertjie, sonsondergang en nuwe aankomelinge te wys wat vir ons die mooiste is. Op dié manier volg ons die digter C Louis Leipoldt se denkbeeldige voetspore deur ’n “blomtuin-vol van kleure” in ons eie kontrei.

“Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand: Dan is die dag so helder, so groen is elke aand, So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo, So blomtuin-vol van kleure die asvaal ou Karoo.” – C Louis Leipoldt

Mooiste blomme
“Dit is die maand Oktober: . . . . Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag? Wat kan jy beter, mooier, of heerliker verwag?”
Die Bronberg-gebied is so vol van blomme in Oktober dat dit bykans onmoontlik was om slegs een blom te kies as ons mooiste een. Daarom wys ons jou drie - die mooiste blom wat aan ?n boom hang, een wat onverwags teen ?n struik se stam uitgroei en een wat in ?n brose pienk-en-wit wild in die veld opkom.

Mooiste boomblom
Bloedrooi spatsels kleur wat deur ?n vaalbruin laatlente beur. Ons praat van die gewone koraalboom, Erythrina lysistemon, ?n klein tot mediumgrootte bladwisselende boom met helderrooi blomme. Die vrug is ?n dunnerige swart peul van 15 cm lank wat oopsplit as dit nog aan die boom is om helderrooi sade, wat as gelukbringers gebruik word, te versprei. Die koraalboom was een van die eerste wilde bome wat in Suid-Afrikaanse tuine aangeplant is.

Mooiste struikblom
Na jare blom die ?piesangboom? in ons tuin vir die eerste keer en dis toe dat ons agterkom dat hy nooit ?n prôpperse piesang was nie, maar ?n reuse wilde nefie van die Strelitzia. Strelitzia nicolai, die Natalse wildepiesang, dra die ongelooflikste strelitzia-agtige blomme wat ’n groot aantrekkingskrag is vir al wat leef en beef. ’n Verskeidenheid insekte, suikerbekkies, spreeus, houtkappers en selfs ape besoek die boom vir sy nektar en sade.

Mooiste veldblom
Dis duidelik waar die vingerhoedblom, Ceratotheca triloba, se Afrikaanse volksnaam vandaan kom. In Engels vertaal sy naam as wilde jakkalshandskoen. Elegante, lang stingels dra dié brose vingerhoedjies in skadu?s van wit en pienk met ligpers strepies om die blom se binnekant te aksentueer. Ongelukkig blom al die blommetjies aan ?n stingel nie gelyk nie ? die onderste blomme maak eerste oop en vorm al vruggies terwyl die bloeisels boontoe nog besig is om te ontwikkel.

Mooiste voël
?Dit is die maand Oktober: die kokewiet is uit; Boomsingertjies en kriekies die hoor jy orals fluit; Fiskaal is op die oorlog: daaronder by die sluis, Daar is ?n dor ou doringboom sy spens en sy kombuis.?
Die blou-groen skitter van dié voël se veredos het vir hom die plek as mooiste voël in ons harte gewen. Die rooibekkakelaar, Phoeniculus purpureus, het ?n lang, helder rooi, afgeboë snawel. Sy vere word beskryf as swart met ?n metaalagtige blou-groen skynsel. Sy mantel en rug se groen is bietjie helderder en die ander dele meer van ?n blouerige swart kleur. Net omdat hy vir ons die mooiste lyk, beteken dit nie dat ons dink sy harde gekekkel en gekwetter is ook mooi nie.

Mooiste rotse
?Dit is die maand Oktober: . . . Die koppies, kort gelede nog as ?n klip so kaal, Het nou vir welkomsgroetnis hul mooiste voorgehaal.?
Dis die wilde perske wat so wit in die blom staan langs dié verweerde rots op die Koedoesberg-gedeelte van die Bronberg se Elliot-rif in Zwavelpoort. Volgens ou Pretoria-omgewing kaarte van 1955 strek Elliot-rif so min of meer van Hans Strijdomrylaan tot by die poort van Zwavelpoort. Glastonbury-rif begin by daardie poort en strek verder Tierpoort se kant toe tot dit wat ons vandag Nkwe-rif noem.

Mooiste uitsig
“Ek is nog in Oktober: . . . . So pragtig in die môre, so heerlik in die aand! Ek is nog in Oktober, die mooiste, mooiste maand!”
Ons berg bied ?n prentjie-mooi uitsig in alle rigtings. Die besonderse rotsformasies in die voorgrond lei jou oog af teen die noordelike hang van die Bronberg se Elliot-rif na Boschkop se heuwels met Diamond Hill in die agtergrond. Uit toeka se beskrywing van die eerste plase in ons distrik sien ons dat ons berg nie altyd Bronberg geheet het nie. Geskiedenisboeke noem die plaas ?Tiegerpoort gelegen aan Brons Berg,? die plaas ?Garstvontyn gelegen aan die Berensberg? en die plaas ?Elandshoek gelegen aan Baronsberg?.

Mooiste sonsondergang
?Al was die dag soos yster, lank in die vuur gesteek, Die varings in die klofies deur hitte geel verbleek, Tog as die son daaronder agter die berge gaan, Dan word oor heel die wêreld die mooiste geur geslaan.?
Nevermaaind silwer rantjie om ?n donker wolk. In ons kontrei sien jy goue rantjies rondom vuil-pienk en oranje somerswolke. Ons berg bied ?n sonsak uitsig soos min oor Zwavelpoort met Olympus se klipkoppies aan die regterkant tot by die Telkom-toring wat ver weg in Muckleneuk staan. En hierdie is ?n skouspel wat die gelukkiges onder ons elke liewe dag kan meemaak. Al wat jy hoef te doen is kyk.

Mooiste water
?Dit is die maand Oktober: . . . ek dink, die mense vier Vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!?
Dié watertjie word in twee damme gedeel deur ?n pad wat tussen die Van der Merwe?s en Stoffbergs se plotte in Zwavelpoort, loop. ?n Mens kan Glastonbury-rif in die agtergrond sien. Dit is hier waar die Bronberg Karnaval se 8,5 km pretstap deur berge en dale in 2004 begin is. Die roete was so besonders dat daar planne wasom, met ploteienaars se toestemming, elke drie maande ?n rustige rondkyk- stap te reël sodat stappers die verskillende seisoene kan ervaar. Ongelukkig het dit nooit gebeur nie.

Mooiste babas
?Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei? Wat skeel dit, as ons later weer donker dae kry? Ek is nou in Oktober . . .?
Oktober is die tyd van ?n nuwe begin vir die hele natuur ? van veldblomme tot ?n verskeidenheid nuwe aankomelinge wat wankelbeen agter ma aan loop. Dié pajama-donkietjie loop voor Tierpoort se deel van die Bronberg-rif op die plek wat eens Espada Ranch was en nou bekend staan as Betshan.

 
 

© 2024 Die/The Bronberger