Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 18 September 2008 00:39
Untitled Document

Dis nesbou-seisoen – die tyd van die jaar wanneer Bronbergers hul vergaap aan die manewales van swartkeelgeelvinke wat van vroegdag tot sterk skemer nessies weef en blare van die takke rondom die nessies afstroop. Al ooit gewonder wat die doel van die aanhoudende blaarstropery is? Mense het eers gemeen dié vink doen dit om slange weg te hou van die nessie af. Dié teorie is egter lankal verwerp omdat slange in elk geval die nessie bereik – blare of te not.

’n Ander teorie is dat takke sonder blare minder wind-weerstand bied en sal maak dat die nessie nie so vreeslik in die wind rondswaai nie. Dié teorie is ook verwerp omdat nessies aan gestroopte takke steeds dramaties rondswaai in sterk wind.


Dié Bronbergse swartkeelgeelvink kom aangevlieg na ?sy? boom toe

So sit hy daglank en pronk om ?n wyfie nader te lok
.

Die witstinkhout se splinternuwe blare is kaal gestroop rondom die vink se nessie
.

Sommige voëlkenners kom toe na vore met die siening dat swartkeelgeelvinke die blare afstroop om hul nessie meer sigbaar te maak vir verbygaande wyfies. Daar is egter dié wat sê dit is nie sy nessie wat hy sigbaar wil maak nie, maar homself – hy wil hê die wyfies moet hom sien pronk. In ’n studie oor die gedrag van broeiende swartkeelgeelvinke is daar gevind dat die mannetjies groot dele van hul tyd aan nesbou spandeer in die vroeë en piekbroeiseisoen en bykans geen tyd aan die einde van die seisoen nie.

Hulle hou egter aan om bykans dieselfde hoeveelheid tyd aan blaarstropery te spandeer. Sommige mannetjies stroop selfs die blare van ander bome rondom hul nessies wat beteken dat hulle dit nie doen om hul eie nessies meer sigbaar te maak nie. Die studie kom tot die gevolgtrekking dat die blaarstropery ’n vervangingsaktiwiteit is om dié energieke mannetjies besig te hou as hulle nie nesbou nie.


Elke nou en dan hang dié vink aan sy voltooide nessie bo-op die Bronberg.

Hul broeiseisoen is van September tot Januarie en die mannetjies bou omtrent 25 nessies elk per seisoen. Hulle het meer as een wyfie en as ’n wyfie ’n nes gekies het, voer sy hom binne-in uit met sagte gras en vere.

Die swartkeelgeelvink, Ploceus intermedius, is 11 tot 14.5 cm lank. In die broeiseisoen word die mannetjies helder geel met ’n swart gesigmasker; hul oë is rooi en hul snawels, wat gewoonlik ’n ligte bruin-pienk kleur is, word pikswart. Sommige wyfies se oë word ook rooi in die broeiseisoen, maar hulle vere bly ’n dowwe geel-groen kleur wat donkerder gestreep is op die rug. Die keel is ’n gelerige kleur wat verdof tot ’n vuil wit op die maag.

 

© 2024 Die/The Bronberger